Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Rynard Herholdt. Rynard is die kaptein van Hoërskool Ermelo in Mpumalanga se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die sestiende doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van nege hokkie begin speel. Ek hou van die sport want dit kan ‘n uitdaging wees en dit bly op die ou einde net ‘n lekker sport!
My gunsteling professionele hokkiespeler is Jamie Dwyer. Hy is altyd net so kalm en veelsydig en hy laat die sport baie maklik lyk.
As hokkie kaptein speel tans middel ‘back ‘maar ek het al regter ‘back‘ en ‘link‘ gespeel. Ek is vir die eerste keer in 2020 as kaptein verkies. Volgens my is die grootste taak van die kaptein om die spelers te motiveer en seker te maak almal bly altyd positief.
Ons span oefen drie keer ‘n week. Ek het nie my eie oefen-program nie, want ek voel die span oefening is meer as voldoende.
Goeie hokkiespeler
Ek dink ‘n goeie hokkiespeler moet kan kalm bly in stresvolle situasies. Deur kalm te bly kan hy die beste moontlike besluit op daardie oomblik maak. Hokkiespelers moet ook nooit opgee nie en aanhou veg vir die bal. Ek sal sê dat my sleutel to sukses op die hokkieveld is my rustigheid. Gelukkig stres ek nie vinnig nie en bly altyd kalm en dink logies oor my volgende bewegings. Ek “oordink” ook nie te veel goed nie. As iets uitwerk is dit goed en as dit nie werk nie, dan probeer jy net volgende keer harder.
Wat my as hokkie kaptein inspireer elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd, is my span. Ek dink ons speel vir mekaar en ons inspireer mekaar ook op ‘n manier as ons ons dinge kan reg doen en kan wen.
In my hokkie loopbaan tot nou was die lekkerste wedstryd teen Ligbron Akademie in 2020. Dit was een van die hoogtepunte vir my omdat dit so ‘close’ was. Albei spanne het alles gegee. Die wedstryd wat ek gou wil vergeet was ons wedstryd teen Hoërskool Oosterland van Secunda in 2021. Ons het baie vinnig moed opgegee in daardie wedstryd. Dis iets wat ek geleer het: mens moet nooit opgee tot die laaste sekonde nie, want enige iets kan in die ‘game’ gebeur.
As hokkie kaptein hanteer ek druk tydens ‘n hokkiewedstryd deur net te probeer om kalm te bly. Ek weet daar is nog tien ander ouens wat agter my staan en in my glo.
Motivering
As kaptein motiveer ek die span deur altyd te poog om hulle op te bou. Ek doen dit deur vir hulle te sê dat ons die beste span op die veld is en dat ons regtig net moet veg vir die bal. Ons moet ook seker maak ons kapitaaliseer as ons die bal het. Verder probeer ek ook altyd om mense op te bou wat ek kan sien nie so ‘n goeie ‘game’ het nie.
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is my familie, akademie, hokkie, tennis en gholf.
My raad aan beginners in hokkie is om net hard aan jou ‘game’ te werk. Aanvaar kritiek as dit na jou lant toe kom want dit is wat jou ‘n beter speler gaan maak op die dag.
Ja, ek kyk gereeld hokkie op televisie want ek voel mens kan baie leer van daai spelers en dit ook toepas op jou spel.
My doelwit vir die volgende ses maande is dat ek graag wil hê dat ons as span Mpumalanga wenners moet wees. My 3-jaar plan sal wees om vir die universiteit se hokkiespan uit te draf.
Verantwoordelikhede
Ek hanteer my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede deur net goeie tydsbestuur toe te pas en om seker te maak elke aktiwiteit kry ewe veel aandag.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar is om vir die eerste span hokkie te speel. Ek het wel ander belangstellings buiten hokkie. Ek speel graag golf in my aftyd.
My afrigter en spanmaats beskryf my as nNederig en lojaal teenoor die span. My bekwaamhede as goeie hokkiespeler is dat ek goed kommunikeer op en van die veld af.
Die persoon na wie ek opsien as rolmodel is Juffrou Charmoné Prinsloo. Sy is ons afrigter en inspireer elkeen van ons.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak is om te wen as jy hard vir iets gewerk het.
Die professionele hokkiespeler saam met wie ek graag wil koffie drink is Jamie Dwyer.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit nederig wees.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf