Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins gesels Schools That Rock vandag met Kallie Le Roux. Kallie is die kaptein van Hoërskool Goudveld, Welkom, se 1ste seuns hokkiespan. Kallie teken vandag die derde doel aan in ons nuwe reeks oor hokkie kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van veertien begin hokkie speel toe ek hoërskool toe is. Die posisie wat ek tans speel is ‘centre back’. In die verlede het ek in al die ander posisies ook gespeel, behalwe ‘goalie’.
My eerste ervaring van kaptein-wees het my hierdie jaar tebeurt geval. Myns insiens is die grootste taak van die kaptein om die spelers kalm te hou tydens wedstryde. Die kaptein moet ook help om die spel te verbeter. Verder moet die kaptein die spelers te alle tye ondersteun.
Ons span oefen vier dae per week. Persoonlik het ek nie my eie oefenprogram nie, maar ek oefen gereeld oor naweke.
Respek
Die kwaliteite waaroor ‘n goeie hokkiespeler moet beskik, is om die opposisie en die skeidsregter te respekteer tydens elke wedstryd.
My sleutel tot sukses is dat ek te alle tye seker maak dat ek en my hele span verbeter na elke wedstryd en oefening. Wat my met elke wedstryd inspireer, is die toeskouers wat ons langs die veld ondersteun.
My lekkerste wedstryd ooit was ons tweede wedstryd hierdie jaar. Tydens daardie wedstryd het ek baie goed verdedig. Ek kon ook die hele span motiveer om dieselfde te doen. Die wedstryd wat ek beslis nie wil onthou nie is die wedstryd teen ons 0\16 seuns span op die toer. Tydens daardie wedstryd het die hele 1ste hokkie span die wedstryd as ‘n grap ervaar en het ons net 2-0 gewen. Wat ek uit daaruit wedstryd geleer het, is dat ons elke wedstryd ernstig moet opneem en slegs ons beste te alle tye moet gee.
Wanneer ek druk ervaar tydens ‘n hokkie wedstryd, bly ek kalm, haal diep asem en lig my kop op. Gelukkig, hoe meer wedstryde jy speel hoe makliker word dit om die druk te hanteer. Op die einde van die dag bly dit maar net ‘n hokkie wedstryd.
Ek motiveer ons span deur hulle kalm te hou tydens elke wedstryd – al is die wedstryd ook baie hard. Ek help die spelers ook om uit hul foute te leer.
Prioriteite
My huidige top vyf prioriteite is: om elke dag op die veld en in die gym te oefen; om kwaliteit tyd met my familie en vriende te spandeer; die lewe te geniet; om ‘n goeie kaptein te wees; altyd my waardes te volg.
My raad aan beginners sal wees om nooit te huiwer om vrae te vra nie en altyd bereid te wees om nuwe dinge te leer.
Ek kyk van tyd tot tyd hokkie op YouTube. Ek leer baie van die professionele spelers.
My grootste doelwit tans is om my matriekjaar en skoolloopbaan met goeie uitslae af te sluit. Ek wil graag na skool aanhou hokkie speel – moontlik ‘action hockey’ en ook afrigting.
Ek hanteer my verantwoordelikhede ten opsigte van hokkie, sosiaal en akademie deur akademie eerste te plaas. Daarna volg hokkie en laastens sosiale verantwoordelikhede.
My grootste enkele hoogtepunt vanjaar is die voorreg om die 1ste hokkiespan te lei. As goeie hokkiespeler beskik ek oor die vermoë om kalm te bly in stresvolle situasies.
Die persoon na wie ek opkyk is Keagan wat in 2021 vir Gouties se 1ste span gespeel het. Hy was altyd vriendelik en het my altyd gehelp wanneer ek gesukkel het. Wat my baie opgewonde maak, is wanneer my spanmaats tydens ‘n wedstryd saamwerk en ons besig is om as ‘n span die opposisie te wen.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit wees: ‘chilled’.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf