Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Jeanique van Wyk. Jeanique is die kaptein van Hoërskool Adamantia in Kimberley se 1ste meisies hokkiespan. Sy teken vandag die agt-en-twintigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van 7 jaar hokkie begin speel. Ek hou van hokkie omdat ek elke dag iets nuuts kan leer en daar is altyd nuwe uitdagings om aan te pak. Dit is ’n interessante sport om te speel en om na te kyk.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Luciana Paula Aymar. Sy het ook op die ouderdom van sewe begin hokkie speel. Deur al die jare het sy haarself bewys, terwyl sy alles en almal wat teen haar was en haar probeer ontmoedig het, verras het. Sy is die enigste speler in die geskiedenis wat agt keer die FIH Speler van die jaar toekenning ontvang het. Verder word sy beskou as die beste vroulike hokkiespeler van alle tye. Ten spyte van almal wat haar afgebring het, het sy steeds in haarself geglo en hard gewerk om al haar prestasies te ontvang.
Tans is ek ’n los speler, so ek speel “back” en “midfielder”. Ek het ook al “sweeper”, al die “back” posisies en al die “midfielder” posisies gespeel.
Verkies as kaptein
Ek is hierdie jaar, 2022, vir die eerste keer as hokkie kaptein verkies in my matriek jaar. Nadat ek verkies is as kaptein, moes ek baie dinge hanteer. Soms moet jy liefdevol met jou mede-spelers praat en soms moes jy bietjie “hard” praat. Die kaptein is veronderstel om seker te maak dat die span as een saamwerk. Dit is partykeer nodig om ’n ander speler te motiveer en moed in te praat. Dit is ook baie belangrik om ’n goeie voorbeeld te stel, op die veld en ook van die veld af. Tydens die spel moet die kaptein die wedstryd kan “lees” en dan ook weet watter aksies om uit te voer.
Ons span oefen 3 keer ’n week, Maandae, Dinsdae en Donderdae. Ek het ook my eie oefenprogram en ek is baie lief vir gym.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie hokkie speler moet beskik, is wilskrag, motivering, spangees, vreesloosheid en selfvertroue. My sleutel tot sukses op die hokkieveld is uithouer, aanhouer, wenner.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd, is om te weet ek speel vir my skool, Adamantia, se eerste span en ek verteenwoordig my skool.
Lekkerste wedstryd
My lekkerste wedstryd was toe ons hierdie jaar ’n wedstryd teen Girls High gespeel het. Ek dink dit was vir my so ’n lekker ‘game’ want ons het as ’n span baie goed saamgewerk. Dit het vir my gevoel ons het werklik dit, wat die afrigter ons geleer het, op die veld toegepas en dit was suksesvol. Ons het as ‘n span in mekaar geglo en mekaar aangemoedig. As hokkie kaptein was ek ongelooflik trots op my span.
Die wedstryd wat ek baie gou wil vergeet, is beslis die wedstryd teen Hoërskool Diamantveld. Dit was ons eerste wedstryd na die “lockdown” en ons was nog nie so goed voorbereid as ’n span nie. DIt was die eerste keer wat ons as ’n span saam gespeel het. Ek het geleer dat dit baie belangrik is om altyd positief te bly, maak nie saak hoe die telling lyk nie. Dit is ook belangrik om aan te hou “baklei” tot die eind-fluitjie blaas.
Ek hanteer druk tydens wedstryde deur kalm te bly. Sodoende kan ek my spelers motiveer en raad gee wat hulle tydens die wedstryd kan gebruik. Ek bly positief om my span aan te moedig om net hul beste te gee en hulle tyd op die veld te geniet.
Om my span, as hokkie kaptein, te motiveer, moedig ek hulle aan om nooit op te gee tydens ’n wedstryd nie. Hulle moet altyd hul beste gee en net elke oomblik daarvan geniet.
Top vyf prioriteite
My huidige top vyf prioriteite is: 1. Godsdiens; 2. Skoolwerk; 3. Hokkie; 4. Gym; 5. Om tyd te spandeer saam met die mense vir wie ek lief is.
My raad aan beginners: hokkie is nie altyd ’n maklike sport nie. As jy voel jy misluk soms, moenie opgee nie, hou aan totdat jy dit regkry. Glo in jouself, want jy kan dit doen. Dit vat net tyd en harde werk.
Nee, ek kyk nie na hokkiewedstryde op TV nie, want ek kry nie altyd tyd daarvoor nie. As ek meer tyd gehad het, sal jy my nie voor die TV wegkry nie. Dit is lekker om hokkie te kyk en te weet daar is nog mense wat lief is vir die sport. Dit is ook lekker om verskillende tegnieke te sien en te probeer aanleer.
Ja, ek probeer altyd professionele spelers se tegnieke aanleer. Om te kyk of ek dit kan regkry is baie lekker. Dit maak my vir seker ’n beter speler op die veld.
My korttermyn doelwit is dat ek graag ’n beter hokkiespeler wil word en ’n nog beter hokkie kaptein vir my span wil wees.
My verantwoordelikhede by hokkie, saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede, hanteer ek deur, wanneer ek hokkie het, dan fokus ek net op hokkie. Ek probeer fokus op dit wat op daardie stadium prioriteit is of voorkeur moet geniet. Ek los sosiale lewe maar vir naweke wanneer ons nie ’n wedstryd speel nie of as ek nie hoef te leer nie.
Griekwas hokkie
Ja, ek sal graag na skool vir Griekwas hokkie wil speel. Verder sal ek wil betrokke raak by skole en hokkie-afrigting.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was om kaptein te raak van Addies se eerste hokkiespan en om Griekwas bokkieweek te kry.
Ja, ek het wel ander belangstellings buiten hokkie. Ek spandeer baie tyd in die gym en ek hou daarvan om te gaan draf met musiek in my ore.
‘n Voorstel wat ek gemaak het en wat gewerk het, was toe die bal naby ons doelhok was. Ek het vir al my agterspelers en middelveldspelers gesê hulle moet voor hulle teenstaanders staan sodat hulle nie die bal kan ontang nie. Een speler moet los wees om die persoon wat die bal het, aan te val. Toe die persoon wat die bal gehad het wou slaan, toe slaan sy in ons los speler se stok vas. Toe slaan ons los speler die bal op na ons voorspelers, sodat hulle die bal na ons teenstaanders se doelhok kan dribbel.
Die persoon na wie ek opsien as rolmodel, is ‘Coach’ Clyde, my huidige afrigter.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is wanneer ek iets nuuts probeer en dit dan werk.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as ’n persoon wat ’n passie het vir hokkie. Ek is ’n baie aggressiewe speler wat geen vrees het om seer te kry nie.
Die professionele hokkiespeler met wie ek graag wil koffie drink is, Luciana Paula Aymar.
As ek myself in een woord moet beskryf: Perfeksionis.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf