Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Gabriella Jordaan. Gabriella is die kaptein van Hoërskool Robertson se 1ste meisies hokkiespan. Sy teken vandag die negentiende doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van 6 begin hokkie speel. Hokkie is ‘n sport wat nie net fisiese vaardighede ontwikkel nie, maar ook baie sosiale vaardighede. Dis ‘n sport wat jou meer leer van jouself en ander. Ek is iemand wat daarvan hou om deel te wees van ‘n span/groep mense. Dis ook iets wat my Adrenalien opjaag.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Ellen Hoog. Sy word gesien as een van die beste vroulike hokkiespelers ter wereld. Ellen was deel van Nederland se internasionale span. Haar aanval strategieë is uitstekend, en sy skiet amper altyd ‘n doel wanneer sy ‘n kans kry. Sy speel ook my gunsteling posisie.
Tans speel ek as ‘n agterspeler (back). Maar in my hokkie loopbaan het ek hoofsaaklik enige skakel (link) posisie gespeel.
Ek is verlede jaar, 2021, in my graad 11 jaar, die eerste keer as hokkie kaptein gekies.
Volgens my is die grootste taak van die hokkie kaptein, motivering. Ek voel ‘n kaptein se grootste taak op die veld, en tydens oefening, is om die res van die span te motiveer om hul beste te gee. Die kaptein is ook die persoon wat moet seker maak dat almal in die span gelukkig is. Verder moet jy dan ook help waar jy kan.
Ons span oefen drie keer per week.
Die bekwaamhede/ kwaliteite wat ek dink ‘n goeie hokkiespeler oor moet beskik, is nederigheid, volharding, deursettingsvermoë en optimisme.
Sleutel tot sukses
Die sleutel tot sukses op die hokkieveld is dissipline en kommunikasie. As almal dissipline handhaaf, soos om elke oefening by te woon en hul beste te gee, dan kan die span baie ver kom. Kommunikasie is baie belangrik in ‘n wedstryd, anders kan mense van dieselfde span teen mekaar speel sonder dat hul dit agterkom. Jy moet vir ander kan sê wat jou volgende beweging gaan wees. Hulie moet ook vir jou sê wat hul wil hê jy moet doen. Sodoende sal almal op die dieselfde bladsy wees met wat volgende gaan gebeur. Die span kan dan goed saamwerk om ‘n doel te bereik.
In my loopbaan tot nou was ons lekkerste wedstryd vanjaar teen Hoërskool Upington tydens die Noord-Suid Derby. Ons het vooraf geweet dit gaan die moeilikste wedstryd wees wat ons nog ooit gespeel het. Dit was toe die lekkerste en beste wedstryd wat ons nog gespeel het. Die span het uitstekend saamgewerk, en almal het presies gedoen wat nodig was om dit so ‘n uitstekende wedstryd te maak.
Ek is iemand wat meeste van die tyd floreer onder druk. Dit motiveer my om net nog harder te speel en almal rondom my te motiveer om dieselfde te doen.
As hokkie kaptein motiveer ek my span deur my aksies en motiverende woorde. As jy as kaptein nie jou kant bring of energie in die span in bring nie, sukkel die span om dit te doen. Motiverende woorde is altyd ‘n wenner, maar ook net as jy self dit wat jy sê toepas.
Prioriteite
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is my Geloof, familie, skool, hokkie en my vriende.
My raad vir beginners in hokkie: YouTube is your best friend. Daar is soveel goed wat mens kan leer. Enige hokkie-vaardighede word daar stap- vir- stap uiteengesit. En dan ook, vra vir hulp. Moenie te hard wees op jouself as jy nie iets die eerste keer reg kry nie. “Rome wasn’t build in a day.”
Ja, ek kyk na hokkiewedstryde op TV wanneer ek tyd kry. Mens leer baie daaruit. Nie net hul individuele vaardighede nie, maar ook hoe om as ‘n span optimaal te laat funksioneer.
Ek het al probeer om ‘n professionele speler na te boots – vir Ellen Hoog. Daar is van haar vaardighede wat ek self meer begin oefen het om dit net so goed soos sy te kan doen.
My doelwit is om toelating te kry by my keuse van ‘n universiteit en dan ook dit dan aanpak tot die beste van my vermoë. Ek sal ook dan wil aanhou hokkie speel.
Hoe hanteer ek verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Daars ‘n tyd en ‘n plek vir alles. Daars tye wat uit-een gesit is vir hokkie en tye wat uit-een gesit is vir my akademie en vir my sosiale lewe.
Grootste hoogtepunt
My enkele grootste hoogtepunt die afgelope vyf jaar is om met skool klaar te maak, en te weet ek het altyd my beste gegee op die gebied van sport, akademie en sosiale wyse. Ek is iemand wat nie daarvan hou om met “regrets” saam te leef nie, so ek wil weet dat ek altyd my beste gegee het waar ek kon.
Ja, my ander belangstellings buiten hokkie – ek ook mal oor perdry.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as nederig maar wel kompeterend. Ook as iemand wat graag ander gelukkig wil maak en hou.
Die bekwaamhede waaroor ek as hokkie kaptein beskik, is gedetemineerdheid, uithouvermoë en leierskap.
Ja, daar is ‘n persoon na wie ek opsien as rolmodel – my huidige afrigter. Sy motiveer ons en het altyd ‘n nuwe idee of oefening wat help dat ons span verbeter.
Wat my die meeste opgewonde in die lewe maak, is as ek iets bereik het waarna ek al vir lank uitsien en hard voor gewerk het. En dan nog meer as dit my vriende en familie.
Die professionele hokkiespeler met wie ek graag wil koffie drink, is Ellen Hoog.
Ek sal myself in een woord beskryf as passievol.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://hoerskoolrobertson.co.za/
Foto verskaf