Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Dominique Smith. Dominique is die kaptein van Hoërskool Bastion in Roodepoort, Gauteng, se 1ste meisies hokkiespan. Dominique teken vandag die tiende doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het begin met hokkie op die ouderdom van tien jaar. Ek hou van uitdagings en hokkie is een van die sportsoorte wat baie uitdagings bied. Nes elke ander sport is daar verskillende vaardighede wat jy moet aanleer om bo jou uitdagings te kan uitstyg. Daarom hou ek van hokkie omdat daar konstant nuwe dinge is wat jy kan aanleer om jou spel te verbeter en deel te kan vorm van ʼn span.
As ʼn hokkiespeler is dit beter om enige posisie te kan speel. Daarom kan ek op enige oomblik tydens die spel, in ʼn ander posisie speel as dit nodig is. Tans speel ek as linker ‘forward’. Die eerste geleentheid wat ek gehad het om as hokkie kaptein verkies te word, was in 2016.
Grootste taak van kaptein
Volgens my is die grootste taak van die kaptein om die span aan te moedig om aan te hou probeer. Dit is ook baie belangrik om die span te lei op ʼn regverdige manier wat konflik vermy.
Ons span oefen vyf keer per week. Ek volg self ook ʼn oefenprogram om fiks te bly. Dit is nie net vir hokkie nie, maar vir ander sport ook.
‘n Goeie hokkiespeler moet oor die vermoë beskik om as ʼn span saam te kan werk en aan te hou veg, ongeag hoe moeg jy is. Jou kop is jou grootste wapen. Ek glo dat jou verstandhouding ook ʼn groot rol speel tot die manier hoe jy speel. Jy is tot alles in staat deur God wat jou die krag gee, maar jy moet glo dat jy tot alles in staat is. Dít is my sleutel tot sukses.
Wat my as hokkie kaptein inspireer elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd, is die idee dat my span my sal ondersteun en daar vir my sal wees as ek hulle nodig het. Ek is baie kompeterend en daarom het ek nie veel inspirasie nodig om my beste te gee nie.
Lekkerste wedstryd
Die lekkerste wedstryd in my hokkie-loopban tot nou was in 2019. Dit was ons o/15 wedstryd teen Crawford College. Hulle was die kampioene wat niemand kon wen nie. Ons span het almal in ons skoene gebewe omdat ons vir die eerste keer toegelaat was om op hulle astrobaan te speel. Ongeag ons vrees het ons hulle oorwin op hulle eie gronde. Daardie dag het ons soos ʼn span gespeel en ons het aangehou om deur te druk, ongeag hoe moeg ons was.
Die wedstryd wat ek gou wil vergeet, is ons onlangse wedstryd van 13 April 2022. Ek het daaruit geleer dat ʼn span nooit sal wen tensy almal hul deel bring nie. Ek het ook geleer dat ʼn mens nederig moet bly en altyd jou beste moet gee.
As hokkie kaptein hanteer ek druk tydens ‘n hokkiewedstryd deur te begin om te bid. Gebed vat my spanning weg en daarna weet ek dat ek veilig sal wees. Die blote feit dat my span daar is, is ook klaar ʼn verligting want ek weet hulle sal my ondersteun.
As kaptein motiveer ek my span as volg: Ons span hou van geesvang. Daarom sing ons ʼn paar liedjies voor ons wedstryd sodat ons verenig kan word en ons adrenalien so bietjie opgekikker kan word.
Top 5 prioriteite
My huidige top 5 prioriteite in die lewe;
- Eerstens is dit om my matriekjaar klaar te maak met goeie uitslae.
- Tweedens om universiteitstoelating te kry by my droom-universiteit, naamlik Stellenbosch Universiteit.
- Derdens wil ek presteer in alles waaraan ek deelneem hierdie jaar.
- Vierdens wil ek myself fisies en emosioneel voorberei vir die veranderinge wat nou gaan plaasvind in my lewe wanneer ek uiteindelik toegelaat gaan word in die grootmens wêreld.
- En laastens wil ek geestelik groei in my geloof.
My beste raad vir beginners in hokkie is oefen, oefen, oefen, want dit kom nie oornag nie.
Ja, ek het al probeer om ‘n professionele speler na te boots. Ek het al gesien hoe hulle hardloop terwyl hulle die bal op hul stok hop gedurende ʼn wedstryd. Ek het dit ook al probeer doen.
My grootste enkele hoogtepunt die laaste vyf jaar, is dat ons so lanklaas sport gespeel het a.g.v. Covid. Dit is nogal ʼn hoogtepunt om weer gees in die skool te bring deur sport en weer langs die kantlyne te kan sit en mekaar ondersteun. Dit is ook lekker om my alles te gee op die veld. Die hoogtepunt in my sportloopbaan is dus die gees wat ons almal nou ervaar omdat ons so verlang het na die spel.
My doelwit vir die volgende 6 maande/ 3 jaar, is om aanvaar te word deur Stellenbosch Universiteit en SA’s toe te gaan vir landloop.
Verantwoordelikhede
Ek hanteer my verantwoordelikhede as hokkie kaptein saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede, deur goeie tydsbestuur en prioritisering.
Ja, ek beplan om met hokkie voort te gaan na skool. Ek wil graag varsity hokkie speel op universiteit-vlak of andersins aansluit by ʼn klub.
My belangstellings buiten hokkie is dat ek graag ander sport ook speel. Ek hou ook daarvan om my brein aktief te hou deur te lees of te teken.
My afrigter en spanmaats beskryf my as lojaal en pligsgetrou en iemand wat hard werk. Die bekwaamhede waaroor ek beskik as goeie hokkiespeler, is die feit dat ek in ʼn span kan werk en ek nie maklik opgee nie.
Ja, ek het voorstelle gemaak wat goed gewerk het. Ek het voorgestel dat ons in ʼn spesifieke struktuur speel omdat ons begin bondel het en ons nie geweet het waar om te wees nie. Ek het ook voorgestel dat ons spelers merk wat kenmerkend was want sonder hulle was die ander span verlore.
Beskryf jouself in een woord. Hardwerkend.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf