Netbal Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Minke van Wyk. Minke is die kaptein van Hoërskool Goudveld, Welkom, se 1ste netbalspan. Sy teken vandag die elfde doel aan in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek speel al netbal vandat ek 7 jaar oud is. Ek is ongelooflik lief vir netbal. Dit was nog altyd ‘n deel van my gewees en ek geniet dit om ‘n sport te doen waarvoor ek so lief is en ‘n passie voor het. Ek neem ook aan ander sportsoorte deel soos krieket en tennis.
Ek speel tans HD en D. Dit was nog altyd die posisies wat ek gespeel het. Ek het ook al S en AV gespeel. Ja, ek was al voorheen netbal kaptein vir ander spanne gewees. Dit was vir beide my skoolspanne asook provinsiale spanne.
Ons span oefen drie to vier keer ‘n week. Ek oefen ook in die middae by die gym of ek draf ook graag. Ek oefen ook doele en gooi balle by die huis.
Die wedstryd waarvoor ek die meeste gestres het, was reeds dié jaar toe ons teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool gespeel het. Die rede was omdat ons reeds die jaar al teen hulle verloor het en hulle weer ‘n keer in die West Grow Liga kon kry. Ons het sterkter terug gekom en met 28-20 getriomfeer!
Korttermyn doelwit
My huidige korttermyn doelwit is om die beste vir my span te gee en om te verseker dat ons as span hoë hoogtes sal bereik. Ook dat ek my span sal lei om ons liga te wen vir die jaar.
My top prioriteite in die lewe is, my verhouding met die Here, Akademie, familie en vriende.
Ek wil verseker na skool aangaan met netbal. Ek wil graag na skool vir my Universiteit netbal speel. My langtermyn doelwit is om vir die o/21 Proteas te speel en op die ou einde by die Proteas aan te sluit.
Ek ervaar nie regtig tekortkominge in my spel nie, maar daar is altyd plek vir verbetering. Ek sal altyd iets wil leer wat my spel kan verbeter.
My sterk punte wat my ‘n goeie netbalspeler maak, is verseker goeie sportmangees en geduld. Ek glo dit maak nie saak wat die uitkomste van ‘n wedstryd is nie. Wat egter saak maak, is dat jy altyd die beter persoon moet wees en met ‘n glimlag op jou gesig kan sê dat die ander span die beter span was vir die dag. ‘n Mens moet nooit ‘n slegte verloorder wees nie. Daar is vier kwarte in ‘n netbalwedstryd. Daarom glo ek dat daar baie in vyf minute kan gebeur wat die uitslag van die wedstryd kan bepaal. Ek moet net geduldig en oopkop dink oor die spel.
Ek, as Kaptein, motiveer my span om altyd gedurende ‘n wedstryd opbouende kommentaar te lewer, maak nie saak wat die telbord sê nie.
Rolmodelle
My rolmodelle tans is my netbal-afrigters, Juffrou Madri Harmse en Juffrou Elba Stolk. Hulle motiveer en doen soveel moeite met ons span. As afrigters het hulle ongelooflike kommunikasievaardighede. Hulle het gewoonlik indrukwekkende organisasievaardighede as bestuurders, en hulle dwing dissipline en respek af by ons as netbalspelers.
Wat dink jy is die grootste uitdagings van die meeste deelnemers aan sport vandag? Ek dink Covid-19 het ‘n groot impak op sport. Omdat daar soveel kinders is wat lank terug netbal gespeel het, het die meeste spelers die basiese dinge van sport vergeet. Dit bring groot uitdaging in sport.
Ten opsigte van die bestuur van my sport-, akademiese en ander verpligtinge, probeer ek my sport en akademiese verpligtinge te handhaaf. Omdat ek tans in matriek is, is die werk baie meer en die tyd baie min. Daarom probeer ek soveel as moontlik tyd en moeite in my skoolwerk in te sit asook al my ekstra klasse by te woon. Na skool oefen ek netbal en kom my verantwoordelikhede na as kaptein en om ‘n goeie voorbeeld vir my span te stel.
My grooste netbal nagmerrie was toe ek in my graad 8 jaar my ligamente geskeur het teen Hoërskool Witteberg. Dit was net voor die Provinsiale proewe. Ek moes toe uitsit en kon nie speel nie. Daarmee was my hele netbal-seisoen vir die jaar verby.
As netbal kaptein het ek al baie van spanwerk geleer. As kaptein moet mens orde handhaaf in die span, wat dan spanwerk baie vergemaklik. Dit is ook belangrik dat ons, as spelers, mekaar se swakpunte en sterkpunte sal identifiseer en daarop sal voortbou om die spanwerk te verbeter.
Hoogtepunt
My hoogtepunt as kaptein van die jaar was verseker toe ons teen Voortrekker gewen het. As span het ons regtig baie hard gewerk en baie ure saam as ‘n span ingesit. Ons moes individuele aktiwiteite doen en dit vir ons afrigter stuur.
Ons as span het al ‘n besluit geneem dat ons meer moet fokus op ons fiksheid. ‘n Wedstryd duur een uur en ons moet topfiks wees om te kan verseker dat ons sal aanhou baklei tot die einde van die wedstryd.
Die beste advies wat ek al gekry het, was dat ek my foute moet laat gaan en fokus op die volgende skoot. Leer hoe om terug te stel en te herkalibreer wanneer jou poging te kort skiet of die punt mis. Herken die teleurstelling, maar laat die foute gaan en begin met ‘n skoon bladsy die volgende poging. Moenie dat die skoot wat jy gemis het veroorsaak dat jy nog drie mis nie. Foute is deel daarvan om uitsonderlik te word. Niemand kan suksesvol wees sonder foute nie.
Ek het nie ‘n spesifieke lekker/beste wedstryd nie. My fokus is om elke wedstryd my beste te speel en te verseker dat ons as ‘n span net die wedstryd sal geniet en na die tyd kan sê ons het ons alles gegee.
Ek glo dat ‘n goeie afrigter altyd positief is entoesiasties, ondersteunend, vertrouend, gefokus, doelgerig, kundig, oplettend, respekvol, geduldig en ‘n duidelike kommunikeerder is.
Chantelle Swart
Ek sal graag saam met Chantelle Swart wil koffie drink. Sy is ‘n uitstekende HD en speler. Ek kyk op na haar manier van speel.
Dit wat my die gelukkigste maak in my lewe, is verseker my familie en vriende wat my altyd ondersteun.
My grootste hoogtepunt gedurende die afgelope 5 jaar is die vriende wat ek gemaak het en die oomblikke van samesyn tussen familie en vriende.
My spanlede sal my beskryf as hardwerkend en nederig.
As ek myself in een woord kan beskryf, sal dit verseker wees “opreg.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf