Hokkie Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Bredasdorp se 1ste dogters hokkiespan kaptein, Minke Terblanche. Minke behaal die derde doel in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Minke, op watter ouderdom het jy begin hokkie speel?
- Ek speel al van 6 jaar oud hokkie en het nog nooit opgehou nie.
Hoekom hou jy van hokkie? Wat het jou laat besluit om hokkie te speel?
- My ma het, toe ek klein was, gesê ons moet aan so veel as moontlik sportsoorte deelneem. Sodoende sal ons die basiese vaardighede van alle sportsoorte hê. Dit het toe natuurlik veroorsaak dat ek hokkie ook gespeel het. Ek hou niks van alleen-sportsoorte nie en hokkie gee my die kans om saam met my vriende iets opwindends en lekker te kan doen. Dit is ook meer soos ‘n stokperdjie wat ek enige tyd op enige plek kan doen as ek verveeld is – al is dit net om alleen om die banke voor die TV te dribbel.
Wie is jou gunsteling professionele hokkiespeler? Hoekom?
- Jip Janssenn. Hy is ‘n Nederlandse professionele hokkiespeler. Hy is my gunsteling omdat hy altyd ‘n manier kry om fantastiese doele aan te teken – selfs al lyk dit onmoontlik. Hy maak seker dat dit altyd ‘n lekker en opwindende wedstryd is om na te kyk met al sy fantastiese en snaakse “celebrations” en “skills”.
Watter posisie speel jy tans? Watter posisie/s het jy al gespeel?
- Ek speel “centre link” en “centre forward”. Dit is die posisies wat ek al van kleins af verkies, maar ek het al oral op die veld gespeel, behalwe Goalie.
Wanneer was jy vir die eerste keer as kaptein verkies?
- Ek is hierdie jaar vir die 1ste keer verkies as Hokkie Kaptein.
Wat is, volgens jou, die grootste taak van die kaptein – op die veld en tydens oefening?
- Om altyd ‘n goeie voorbeeld van positiewe sportmanskap te stel en positief te bly. As jy negatief is gaan dit definitief op jou spanmaats afsmeer.
Oor watter bekwaamhede/ kwaliteite, dink jy as Hokkie Kaptein, moet ‘n goeie hokkiespeler beskik?
- Definitief deursettingsvermoë, goeie kommunikasie-vaardighede en optimisme.
Wat inspireer jou elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd?
- My skool. Hoërskool Bredasdorp is nie baie groot nie, so elke keer as ek op die veld kom vir ‘n wedstryd is ek gemotiveerd om my beste te gee. Daardeur kan ek bewys dat dit nie gaan oor die grootte van jou skool nie. Ons is dalk ‘n klein skooltjie, maar ons kan net so goed wees en sulke groot dinge doen.
Minke, In jou loopbaan tot nou – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asb uit.
- Toe ons teen Hoërskool Overberg gespeel het einde verlede jaar. Ons het vroeër daardie jaar al twee keer teen hulle gespeel waarvan ons een gewen het en een verloor het. Dit was half soos “sudden death”. In daardie wedstryd het ons hele span soos een man baklei. Die vegkrag,optimisme en vasberadenheid in ons span was net heeltyd daar. Ons het die wedstryd 4-1 gewen. Ek het nog nooit ‘n span so vol liefde saam sien speel nie.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Wat het jy daaruit geleer?
- Toe ons in 2023 teen Charlie Hofmeyr gespeel het. Ek het geleer dat jy ‘n spansport as ‘n spàn moet speel. Dit help nie om negatief te word en dan jou spanmaats kwalik te neem vir foute nie. Solank as wat jou span kan saamstaan en positief bly in ‘n wedstryd, het die ander span defintief nog nie gewen nie.
Hoe hanteer jy druk tydens ‘n hokkiewedstryd?
- Ek probeer altyd net positief bly en maak asof ek net ‘n vrienskaplike wedstryd speel soos tydens oefeninge.
Hoe motiveer jy as Hokkie Kaptein jou span?
- Ek bly positief, of eerder ek maak asof ek positief is. Geen mens is altyd positief nie, maar solank as wat ek ander kan laat glo ek is en hulle aanmoedig om ook te wees, skep jy ‘n goeie atmosfeer op die veld. ‘n Goeie atmosfeer lei altyd tot ‘n goeie wedstryd.
Wat is jou huidige top 5 prioriteite in die lewe?
- Sport,familie,vriende,God en om te leef en nie net te bestaan nie.
Het jy enige raad vir beginners in hokkie?
- Don’t expect everything to come to you. If you want to be better than a normal player, you have to work harder than a normal player.
Beplan jy om met hokkie voort te gaan na skool? Op watter vlak?
- Ek sal graag vir my universiteit wil hokkie speel.
Wat is jou grootste enkele hoogtepunt (sport of andersins) die afgelope vyf jaar?
- Toe ons span waarin ek verlede jaar Cape Town Premiere League gespeel het, die toernooi gewen het.
Het jy enige ander stokperdjies/ belangstellings buiten hokkie?
- Ek speel ook tennis en ek is mal oor swem in die see.
Hoe sal jou afrigter en spanmaats jou beskryf?
- Ek het geen idee nie maar ek dink hulle sal sê ek is die positiewe een in die span.
Is daar enige afrigter of hokkiespeler na wie jy opsien as rolmodel?
- Taheera Augousti. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Hokkiespan. Ek sal bitter graag eendag my land wil verteenwoordig, soos enige hokkiespeler, en sy het ongelooflik hard gewerk. Daarom is sy nou een van Suid-Afrika se beste vroue-spelers.
Saam met watter professionele hokkiespeler sal jy graag wil koffie drink?
- Maria Verschoor, Nederlandse hokkiespeler. Ek sal graag wil weet hoe sy dit regkry dat al haar hare in plek bly tydens die wedstryd en dan nog so mooi lyk na ‘n wedstryd.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf