Hokkie Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Goudveld se 1ste dogters hokkiespan kaptein, Mienke Nieuwenhuis. Mienke behaal die vierde doel in ons reeks oor Dogters Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Mienke, op watter ouderdom het jy begin hokkie speel?
- Ek het op 7-jarige ouderdom begin hokkie speel.
Hoekom hou jy van hokkie? Wat het jou laat besluit om hokkie te speel?
- Ek het van ‘n jong ouderdom af ‘n passie gehad vir hokkie. Dit het my liefde gehad vandat ek begin hokkie speel het. Ek het begin hokkie speel omdat daar so baie mense was na wie ek opgekyk het. Al is hokkie-spelers hoe goed, bly hulle altyd nederig en dit is vir my ‘n baie mooi gebaar.
Wie is jou gunsteling professionele hokkiespeler? Hoekom?
- Yibbi Jansen. Sy speel vir Nederland se internasionale span en sy is een ongelooflike hokkiespeler. Sy het hard gewerk vir die speler wat sy vandag is. Wat die meeste vir my uitstaan van haar is dat sy altyd nederig bly maak nie saak wat nie. Sy ploeg altyd terug in haar gemeenskap deur jonger hokkiespelers te help.
Watter posisie speel jy tans? Watter posisie/s het jy al gespeel?
- Tans speel ek enige posisie waar my span my nodig het op die dag. Ek het al die posisies al gespeel behalwe ‘goalie.’
Wat is, volgens jou as Hokkie Kaptein, die grootste taak van die kaptein – op die veld en tydens oefening?
- Op die veld, om altyd almal positief te hou en seker te maak hulle gee hulle beste. Tydens oefening, om my spelers te help as hulle met iets sukkel en om hulle te help om ‘n beter speler te wees.
Oor watter bekwaamhede/ kwaliteite, dink jy, moet ‘n goeie hokkiespeler beskik?
- Om altyd iets nuuts te wil leer en om altyd ‘n beter hokkiespeler te wil wees.
Wat inspireer jou elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd?
- Die feit dat my spanmaats vir my ‘n drukkie gee voor elke wedstryd, beteken baie dat ek weet hulle staan agter my en ek weet ek sal altyd my beste gee vir hulle.
In jou loopbaan tot nou – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asb uit.
- Die wedstryd teen Hoërskool Jim Fouché verlede jaar. Ons het 8-0 teen hulle verloor. Hierdie jaar het ons op die veld gestap om ons alles te gee. Die eerste 3 kwarte was die telling 0-0. Voor die laaste kwart het ons afrigter Juffrou Roxy Siebert vir ons gesê “Julle kan die wedstryd wen.” Daardie woorde het vas gesteek by my en ek het geweet nou moet ek alles gee. Ons het die wedstryd 2-0 gewen.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Wat het jy daaruit geleer?
- Verlede jaar se wedstryd teen Betlehem Voortrekker Hoërskool. Ons het die wedstryd 6-0 verloor. Ons probleem was dat niemand saam gespeel het nie. Ek het geleer dat hokkie ‘n span-sport is en mens moet altyd saam speel.
Mienke, as Hokkie Kaptein, hoe hanteer jy druk tydens ‘n hokkiewedstryd?
- Ek draai altyd terug na die Here en vra Hom om my kalm te hou en te lei om die regte dinge te doen.
Hoe motiveer jy, as kaptein, jou span?
- Om altyd seker te maak ek probeer hulle positief te motiveer en hulle nie af te breek nie.
Wat is jou huidige top 5 prioriteite in die lewe?
- Die Here:
- Ouers en familie;
- Vriende;
- Hokkie;
- Om my Graad 12 jaar met lof te slaag.
Het jy enige raad vir beginners in hokkie?
- Moet nooit opgee as dit moeilik gaan nie, die moeilike tye gaan jou ‘n beter hokkie speler maak.
- Beplan jy om met hokkie voort te gaan na skool? Op watter vlak?
- Ja, my passie vir hokkie sal nooit weggaan nie. Ek sal graag my kennis wil oordra na jonger mense en ek sal graag self ook steeds hokkie wil speel.
Wat is jou grootste enkele hoogtepunt (sport of andersins) die afgelope vyf jaar?
- Om al vir 4 jaar vir my skool se eerste span hokkie te speel.
Het jy enige ander stokperdjies/ belangstellings buiten hokkie?
- Ek hou graag daarvan om gholf saam met my boeties te speel. Ek speel ook graag tennis.
Hoe sal jou afrigter en spanmaats jou beskryf?
- Ek dink ek inspireer mense om my om altyd net hulle beste te gee. Ek probeer om ‘n omgee-hart te hê sodat hulle weet ek sal hulle altyd kan help met enigiets.
Is daar enige afrigter of hokkiespeler na wie jy opsien as rolmodel?
- Ek sien op na beide my afrigters, Juf Roxy Siebert en Mnr Ethan Regal. Ek sou nie vandag die persoon en hokkiespeler gewees het wat ek is as dit nie vir hulle was nie.
Saam met watter professionele hokkiespeler sal jy graag wil koffie drink?
- Yibbi Jansen. Sy lyk na ‘n saggeaarde persoon waarmee ek lekker kan gesels.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf