‘n Hartlike goeiedag uit die hartskamer van KLOFIELAND!
Maandag, 6 Julie, het ons die graad 10-groep by die skool terugverwelkom. Baie dankie aan ons graad 10-groep vir julle samewerking en goeie gedrag. Ons beplan om die graad 8- en 9-groepe op Maandag, 20 Julie terug te verwelkom. Die graad 10-groep sal Maandag, 20 Julie ‘n vakansiedag hê en die graad 12- en 11-groepe sal van Maandag, 20 Julie tot Vrydag, 24 Julie ‘n week se akademiese blaaskans geniet. Volledige datums is verderaan in die Klets.
Ons het dit goedgedink om die graad 8- en 9-leerders volgende week, 13 tot 17 Julie, ‘n akademiese ruskans te gee. Geniet die blaaskans en kry genoeg energie om ook julle skooljaar voort te sit.
Ons versoek dat u moet toesien dat u kind(ers) die Scadsys-vraelys rakende COVID-19 EERLIK beantwoord! Ons besef ons leerders wil nie nou toetse en akademiese werk mis nie, maar die kind(ers) moet asseblief nie jok met die invul van die vraelys nie. Indien hulle koors of ‘n keelseer het, óf naar is, moet dit op die Scadsys-vraelys aangedui word. Ons MOET die skool en almal betrokke by die skool, beskerm.
Ons versoek dat ons ouers sal toesien dat die leerders verantwoordelik optree. Hulle moet deurentyd ‘n masker en/of gesigskerm dra en gereeld hulle hande met ontsmettingsmiddel skoonmaak. Voor skool en tydens pouse moet ‘n sosiale afstand van 1,5 meter gehandhaaf word.
Ons het bewus geword van partytjies wat gehou word waar daar glad nie gesigsmaskers gedra word of sosiale distansiëring plaasvind nie. Ouers….help ons asseblief! Die HELE skool word blootgestel.
Indien u enige uitdagings met u kind se akademie ervaar, of vrae het, kan u die kommunikasiekanale, soos verderaan in die Klets aangedui, gebruik. Ouers moet asseblief NIE die skool besoek om bestuurslede of onderwysers te spreek oor enige aangeleentheid, of om byvoorbeeld iets te kom afhaal NIE. U kan slegs die skoolterrein per afspraak betree.
Streng veiligheidsmaatreëls geld by die skool om die personeel en leerders veilig te hou. Indien u die skool besoek omdat u ‘n afspraak het, MOET u ‘n masker dra anders gaan u toegang tot die skoolterrein geweier word. U koors gaan by die hek gemeet word en indien die mediese personeel nie tevrede is nie, gaan u nie die skoolterrein kan betree nie.
Ek weet ons leef in moeilike tye, maar versoek steeds dat ouers hul skoolgeld getrou sal betaal aangesien die Beheerliggaam vir meer as die helfte van die personeel se salarisse verantwoordelik is. Alle kapitaalprojekte vir dié jaar is gevries en gelde word nou gekanaliseer om onderwyssalarisse en die skool se maandelikse bedryfsuitgawes te betaal om seker te maak dat u kind die nodige onderrig ontvang.
Baie geluk, Berlie Roodt, Carli Swart, Amy Vockerodt en Tiaan Langenhoven, wat gekies is om aan die Global Youth Science and Technology Bowl deel te neem! Ons is ongelooflik trots op julle! Baie geluk, SW Kemp en Hardus Coetzer, met julle uitsonderlike toekennings tydens Krieket Suid-Afrika se prysuitdelingsfunksie!
Neem kennis dat die snoepie wel tydens skoolure vir leerders oop is en dat ons aan ALLE COVID-19-regulasies voldoen.
Wees veilig in hierdie tyd van inperking en kom ons, as Kloof, maak die verskil!
Mnr. C.H. Denysschen
012 347-0277
Hoop glo in die onsigbare en bereik die onmoontlike.
Geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop. – Hebreërs 11:1