Hoërskool Vrede. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Ruben Luus, Hoofseun van Hoërskool Vrede, vir 2022.
Ruben, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Vrede Skool?
Wel eerstens, dit is vir my ‘n baie groot eer om die rol te kan beklee. Soos almal weet, het dit maar baie verantwoordelikhede en jy het ‘n naam waarna jy moet opleef. Ek het die verantwoordelikheid om te lei, eer en dien in elke liewe oomblik van my matriekjaar.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Vrede jou vir die rol as leier voorberei?
Die afgelope 4 jaar was daar baie goeie leiers by ons skool en mens kon baie by hulle leer ten opsigte van die manier hoe hulle take aanpak, maar ook die manier hoe hulle optree. Van graad 8 af was ek in kontak met baie goeie onderswysers ook, wat my opgevoed het en waardes geleer het, wat my nie net ‘n beter leier gemaak het nie, maar ook n beter mens. Hoërskool Vrede is ‘n spesiale skool wat elke kind op die regte manier opvoed en leer!
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Vir seker my oupa, Phillip Luus, en ook my ouers. As ek onseker is oor iets of raad nodig het, is hulle die eerste mense met wie ek gaan praat.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek wil graag in die besigheids- of landbou rigting gaan, verkieslik as die geleentheid navore kom. BCom Internationale Bestuur by die Universiteit van Stellenbosch.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Soos almal reeds weet is ons geleë in ‘n klein plattelandse dorpie en almal is deel van die gemeenskap. Wat werklik vir my uitstaan is die gevoel wat jy kry as jy met die mense wat hier woon te doen kry. Hulle is liefdevol, bereidwillig en leef naby aan die Here. Ons as kinders kry die geleentheid om in Vrede groot te word, om nog skool toe te kan ry op jou fiets en touchies te speel in die aande op die rugbyveld. Hier is kinders nog kinders en dis wat dit so uniek maak.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek voel nie dit moet verpligtend wees nie, maar ek sal dit definitief aanbeveel vir enige skolier. Sport skep verhoudings onder mekaar en gee jou ‘n gevoel van eenheid as jy saam met ander goed aanpak. By Hoërskool Vrede gee ons vir elke leerder die geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer in ‘n wye verskeidenheid sportsoorte. Dis nie verpligtend nie, maar hier is iets vir almal en dit is wat dit so lekker maak hier!
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Die koshuis en rugby saam vriende en selfs die harde dubbel wiskunde-periodes na langpouse. Eintlik maar alles oor die afgelope paar jaar. Ek is dankbaar vir elke geleentheid wat oor my pad gekom het by Hoërskool Vrede.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Ek wil maar net in areas verbeter waar ek kan – klein of groot. Ek wil die skool selfs meer suksesvol maak en elke liewe leerder, so ver as moontlik, gelukkig maak by die skool!
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die woorde van Jesaja 40:31 wat sê as ons op die Here vertou met alles in ons, sal hy ons die krag gee om aan te hou en ons sal nooit moed op gee nie.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Hoërskool Vrede te word?
Hoërskool Vrede is werklik ‘n spesiale skool. Hier is jy nie net ‘n nommer nie, maar ‘n leerder wat met liefde en omgee hanteer en geleer word. Hier leer jy nie net oor tale, rekenaars, grafiese ontwerp en wiskunde nie, maar jy leer ook oor die lewe. As jy hier in Matriek uitstap en die klok lui, kan jy met sekerheid weet jy is die beste, moontlike weergawe van jouself en so ook dan reg vir die wêreld daar buite. Vir wat meer kan mens vra van ‘n skool…
Wat is jou toekoms-ideale?
My toekoms-ideale is om gelukkig en suksesvol te wees in wat ek ook al aanpak. Die heel belangrikste vir my is om nader aan God te lewe elke liewe dag en sy naam hoog te hou!
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Vrede: