Hoërskool Vrede. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Lanica Hepburn, Hoofdogter van Hoërskool Vrede, vir 2022.
Lanica, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Vrede Skool?
Ek sien my rol as hoofleier as ‘n skakel tussen die beheerliggaam, onderwysers, leerlingraad en leerlinge. Ek sien dit ook as n geleentheid om positiewe en produktiewe deelname in die hele skool aan te moedig.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Vrede jou vir die rol as leier voorberei?
Omdat ons ‘n kleiner skool is, het jy die geleentheid om deel te wees van alle aktiwiteite – en daardeur identifiseer jy jou swak- en sterkpunte. Deur gedurig deel van ‘n span te wees kom dit van nature om op mekaar se sterkpunte te fokus, wat ek voel ‘n belangrike leierseienskap is.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Jesus Christus, want Hy stel die riglyn waarvolgens ek wil lewe. My aardse mentors is my ouers.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Op hierdie stadium neig ek na Internasionale Handel.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Onderwysers wat die ekstra myl stap vir hulle skoolkinders en die gevoel van hegtheid wat ons graad soos ‘n familie laat voel. ‘n Groot deel van ons klas kom al van kleuterskool af saam.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Nee, alhoewel ek almal sal aanmoedig om ‘n sport te probeer. Ek glo dat elke persoon die keuse gegee moet word om hulle eie belangstellings vas te stel en te ontwikkel.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Pouse-geselsies, toere, sportgeleenthede met baie gees en interne grappies in verskeie klasse was altyd ‘n hoogtepunt.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Om deelname aan aktiwiteite aan te moedig en om absolute trots onder leerlinge te kweek vir Vrede Hoerskool.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die hoop vir ‘n goeie toekoms en ‘n gebalanseeede lewe is die grootste motiveerder.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Hoërskool Vrede te word?
By Vrede Hoërskool is jy nie net ‘n nommer nie. Elke leerder dra waarde by en kan ‘n verskil maak. Ons akademie, sport en kultuur is uit die boonste rakke.
Wat is jou toekoms-ideale?
Om alles wat ek aanpak in die lewe tot die beste van my vermoë te doen. Soos wat ons skoolleuse sê: “Mik hoog!”
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Vrede: