Helpmekaar Kollege. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Waldt Human, Hoofseun van Helpmekaar Kollege in Johannesburg, vir 2022.
Waldt, hoe sien jy jou rol as hoofseun van Helpmekaar Kollege?
My belangrikste rol as hoofleier is om te lei deur ‘n voorbeeld vir die skool te stel. Mede-leerders moet op my kan staatmaak. Dit beteken om elke dag die skool se reëls en regulasies na te kom en te respekteer aangesien ander leerders dieselfde voorbeeld sal volg. My rol is ook om saam te werk met personeel en leerders om voort te bou op die goeie naam wat die skool reeds verwerf.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Helpies jou vir die rol as leier voorberei?
Helpmekaar het daarop gefokus om beide my swakpunte en sterkpunte te identifiseer. Die skool het my gemotiveer om my leierskapsvaardighede te versterk. Dit het my geleer om goed met ander mense te kommunikeer en om optimisties te wees. Dit stel my in staat om enige iets te hanteer wat na my kant toe gegooi word.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Robin Banks is ‘n motiveringspreker. Hy het nie net my lewe verryk het nie, maar ook die lewens van miljoene mense wêreldwyd deur sy voorleggings oor “Mind Power” en “Shaping your destiny”.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Dit sal ‘n voorreg wees om medies te kan studeer en later in Ortopedie te spesialiseer.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Die feit dat elke leerder hul skoolbaadjie aantrek met trots en wanneer die skool uit volle bors, skouer-aan-skouer die skoollied sing by interhoër. Die finale twee liedjies by produksie waar die skool die dak van die Linder Auditorium lig. Dit is nog iets wat my hoendervleis gee.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek glo in beide individuele en span sport. Deelname moet verpligtend wees omdat dit leerders in staat stel om sosiaal te verkeer en volgens my is dit juis by sportgeleenthede waar vriendskappe gebou en verterk word. Sport leer leerders die vermoë om na ‘n teleurstelling op te staan en voorentoe te beweeg. Dit is ‘n noodsaaklike vaardigheid.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Die jaarlikse graadtoere is verseker vir my ‘n hoogtepunt. Dit gee jou die geleentheid het om mede leerders en onderwysers buite die skool omgewing beter te leer ken. Só word nuwe vriendskappe onder mekaar gebou.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
My doelwit is om Helpmekaar ‘n tuiste te maak sodat daar ‘n plekkie in die son is vir elkeen met dieselfde Helpie-hartklop. Ek beoog ook om die nuwelinge aan die ryk tradisies en ervarings van Helpmekaar bloot te stel wat die afgelope jaar afwesig was.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Elke oggend staan ek op met die doelwit om die beste weergawe van myself te wees sodat ek ander kan inspireer om dieselfde te doen.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Helpmekaar Kollege te word?
Helpmekaar beskik oor ongelooflike onderwysers wat leerders die beste en mees regverdigste kans op die toekoms gee. Dit is ook ‘n plek waar jy drome ontdek, jy die geleentheid het om jouself te wees en waar die gewone iets buitengewoon word. Helpmekaar is nie net ‘n skool nie maar word ‘n leefwyse wat ‘n spesiale gevoel in elke Helpie opwek.
Wat is jou toekoms-ideale?
My toekoms-ideale is om my voete op die aarde te hou. Ek wil die beste te maak van elke geleentheid wat my pad kruis sodat ek ‘n sukses van ‘n loopbaan kan hê en die lewe te kan leef met dankbaarheid.
Foto verskaf
Lees meer oor Helpmekaar: