Dit is weer daardie tyd van die jaar. Gesprekke handel oor taktiek, talent en blote geluk. Planne word beraam en die algemene publiek vra een vraag: Wie gaan met Die Beker wegloop?
Nee, die Sokker Wêreldbeker is verby en Frankryk het al amper vergeet hul het gewen, maar hiér, in die hart van Upington, vind DIE GROOT EEN weer plaas op 11 Augustus!
Groot Interjol is weer hier! Die klank van die doedelsakspeler wat Old tree of Uppies speel en die krete van oorwinning van 2017 hang nog hoog in die lug, maar Uppies is gereed vir 2018.
Die sportspanne oefen al kliphard en die meer intellektuele spanne soos die skaakspan, beraam in stilte hul volgende skuif.
Groot Interjol vind vanjaar by Duineveld plaas,maar ons nooi alle oud-Uppies en ondersteuners uit om die dag by te woon. Die reünie-groepe gaan weer bymekaar kom en verskeie aktiwiteite word beplan. Skakel gerus die skool indien jy deel wil wees daarvan.
Die week vooraf gaan weer tradisioneel gevul word deur tennis, redenaars, vasvra, skaak en skiet.
Indien u enige verdere navrae het, kontak gerus Hoërskool Upington en word deel van die Uppies-Gees!