AGTER vlnr: Zack Barnard, Francois Uys, Durand van Deventer, Hanré van Niekerk, Brendon van Rooyen
MIDDEL vlnr: Clint Williams, Misha Goosen, Blaze Bosch; Louie Smit
VOOR vlnr: Tiffany de Witt, Melissa de Witt, Anése Groenewald; Dominique Shepherd, Izett Oberholzer, Mia Meyer
Afwesig: Mario Newton; Melizza van der Merwe
Jong Arende kry WP-vlerke!
Hoërskool Strand se jong toutrekkers het die afgelope Saterdag op die Helderberg Toutrekklub se tuisveld geskitter met hul prestasies tydens die WP/Wynland Junior Toutrekkampioenskappe.
Die Arende het in twee van die internasionale gewigsklasse medaljes gewen met die dames 480kg-span wat ‘n welverdiende silwer medalje ingepalm het. Die 560kg-seunspan het almal verras met hul kragvertoning om ‘n brons medalje in te palm en daardeur ook aangewys te word om WP tydens die komende SA Junior Toutrekkampioenskappe (22-23 April) in Riversdal te verteenwoordig. Ook het die 440kg-damespan daarin geslaag om ‘n brons medalje in te palm en het hul vertoning ook gelei tot WP-kleure.
In ‘n jaar waar bykans geen sport moontLik was nie, het die toutrekbestuur geweldige energie daarin gesit om alle toutrekkers te behou en om veral nuwe jong trekkers te werf – wat hulle uitstekend reggekry het. Binne die reëls en te midde van streng toepassing van COVID-19 moniteringsmaatreëls, is van die jonger (Graad 7) kaalvoettrekkers genooi om saam te oefen, sodat aan hul styl en tegniek gewerk kon word. Net so het die Legend 30-keppies direk daartoe gelei om bestaande trekkers aan te moedig om aan te hou trek vir Hoërskool Strand ten einde tot hierdie elite groepie leerders toegelaat te kan word. (Leerders kry ‘n Legend 30-keppie sodra hul vir Hoërskool Strand tydens 30 kompetisies verteenwoordig!) Hierdie aksies het daartoe gelei dat die sport steeds groei en dat daar ‘n opwindende positiewe gees onder die Arend-trekkers heers. Almal wil graag daardie keppie verdien en dra!
Vir die volgende twee weke gaan daar hard gewerk word om weer soos in al die vorige jare, Hoërskool Strand en die WP, se name hoog te hou tydens die komende SA Junior Toutrekkampioenskappe.
Foto’s verskaf