Zoé-Lee van der Merwe, ‘n graad 10 leerder van Hoërskool Strand, spog met ‘n allemintige 96% wat sy in haar graad 5 Unisa musiekteorie eksamen verwerf het. Sy is na aanleiding van hierdie uitsonderlike prestasie op die Unisa ererol geplaas. Dit gebeur slegs wanneer jy bo 85% vir ‘n graad 5 tot 8 musiekeksamen behaal het, of bo 90% vir graad 1 tot 4. Wat dit selfs meer merkwaardig maak, is dat Zoé hierdie prestasie reeds voorheen bereik het.
So ‘n prestasie gebeur nie vanself nie. Al het sy ‘n baie besige skedule met baie aktiwiteite, probeer sy om elke dag ten minste 30 minute te oefen. Sy begin altyd met vingeroefeninge, dan volg toonlere om die vingers op te warm, en dan word haar musiekstukke opgedeel en oor en oor geoefen totdat sy dit goed genoeg ken. Haar gunsteling genre is klassieke musiek van die klassieke periode (1750 tot 1810), en sy is veral gek oor W.A. Mozart se musiek.
Zoé is deel van ‘n musikale familie en sy speel al vir 12 jaar lank klavier. Toe sy 3 jaar oud was, het haar ouma haar die eerste keer onder hande geneem en ‘n paar lesse gegee. Sy kan ook ander instrumente bespeel, onder andere kitaar, en sing ook graag. Sy is in graad 7 aangewys as die beste senior sanger van haar laerskool se talentkompetisie, en dit terwyl sy haarself op die klavier begelei het. Zoé moedig enige een wat se vingers jeuk aan om die klavier aan te pak, en sê dit is baie goeie stimulasie vir jou brein, en leer jou veral om twee verskillende goed gelyk te doen.
Zoé is baie dankbaar vir die goeie leiding wat haar musiekjuffrou, mev Joubert-Dunbar, vir haar gee.
Become a Sponsor