Op Saterdag, 14 September, het Hoërskool Strand se eerste dogters-hokkiespan ‘n oudskoliere span aangedurf. Dit was ‘n heerlike wedstryd wat vir beide spanne baie genot verskaf het. Die eerstespan-spelers kon self kies in watter posisie hul wou speel, wanneer daar geruil is. (Hulle mag net nie ‘n graad 12 speler afgeroep het nie, aangesien dit hul laaste wedstryd was.) Die “Old Girls” het wel deeglik hul staal gewys en soms vir opwindende oomblikke gesorg, maar die eerstespan-meisies se fiksheid het op die ou einde die oorwinning in hul guns beklink. Die eerstespan het met 3-0 gewen! Tot groot vermaak van almal het voorspelers agter gaan speel en agterspelers voor – met baie sukses.
Later die aand was daar ‘n afsluiting van die 2019-seisoen saam met die spelers en ouers, waar daar gesellig gekuier en gebraai is. Daar is ook amptelik van die vier graad 12-spelers afkeid geneem.