Big Brag: Die emosies en opwinding was groot tydens die gebruiklike Big Brag en Mini Brag. Eerstespanne het trots op die verhoog verskyn en ‘n saal vol trotse leerders en ouers het hul luid aangemoedig.
‘n Kort video van elke span is vertoon waarna elke speler en sy/haar ouer op die verhoog aan die skool voorgestel is. Dit was hoendervleis-oomblikke wat ‘n skool se lojaliteit en trots kweek! ‘n Glasie is op die spanne geklink waarna die dirigente en Sharkie (gelukbringer) die leerders op hul voete gehad het. Die seremonie is afgesluit met die sing van die skoollied. ‘n Aand waarop elke Vis baie trots kan wees.
Tydens die Mini Brag het die leerders van Hoërskool Punt in hul massas agter die sportspanne aangestap na die Van Riebeeck stadion. Hier is hulle, span vir span, aan die res van die skool bekendgestel. Elke span het sy eie vlag ontwerp en dit was ‘n pragtige gesig om te aanskou met die see in die agtergrond. Die dirigente en Sharkie het weer die leisels geneem en gesorg vir ‘n lekker atmosfeer met baie gees. Na die seremonie het almal na die netbalbane verskuif waar die personeel en prefekte op die netbalbaan teen mekaar te staan gekom het. Dit het maar sukkel-sukkel gegaan maar die eindtelling was 14 elk.
‘n Dag vol trots, gees en pret soos dit net by die Visse kan wees. Hoe kan dit dan nou anders met die pragtig see op die agtergrond en reëndruppels wat kort-kort val. Proudly Punt!
Dit is slegs groepfotos so ek sit nie name by – laat my asseblief weet indien u wel name benodig by van die fotos.
Die Big Brag was op Donderdag, 16 Aug en Mini Brag op Vrydag, 17 Augustus 2018.