Hoërskool Nelspruit se terrein spog met pragtuine en oor die jare heen is daar verskeie inheemse bome aangeplant. Die meeste van dié, onder leiding van mnr. Hendrik Strydom wat vir lank die kurator van die skool se museum was en ook betrokke was by Nellies Klub 1000 en is dit net gepas om elkeen nou met sy eie naam te merk.
Die skool se natuurlewevereniging saam met hul organiseerder, mev. Linda Spasimante, het dit op hulself geneem om die bome op die perseel te identifiseer met behulp van plaaslike natuurkenner Neil Fishwick. Die boomplaatjies is bestel en elke boom se wetenskaplike naam, Afrikaanse, Engelse en SiSwati name verskyn daarop.
Mnr. Strydom is genooi om Maandag 4 September 2017 tydens ‘n informele seremonie die eerste plaatjie in te slaan en die res sal nou deur die loop van die kwartaal deur die natuurlewevereniging voltooi word. Inheemse bome word met groen gemerk en uitheemse bome met geel.
Die nuwe Nellies Klub 1000-sekretaresse mev. Vanessa Roets, waarnemende hoof mnr. Johan Hattingh, uittredende Nellies Klub 1000-bestuurslid en kurator mev. Marlene van Dyk en gr.10-leerder Carmi Steyn en mev. Linda Spasimante wat die natuurlewevereniging verteenwoordig het, was ook daar saam met mnr. Hendrik Strydom!