Hoërskool Nelspruit se Natgeorisme Klub het Saterdag 12 Mei 2018 die roete deur Barberton se Geotrail aangepak. Die leerders is deur me. Alma Snyman, me. Sue Ballot en ‘n geoloog, mnr. Chris Rippon vergesel. Mnr. Rippon werk vir die afgelope 23 jaar by die Sheba-myn in Barberton.
Hierdie Geotrail is deel van UNESCO se voorlopige Wêrelderfenisprogram. Die Greenstone-band strek oor ongeveer 34km van die omliggende Makhonjwa-berge en beeld die geologiese geskiedenis van die omgewing uit. Geoloë beskou die bergreeks en gebied as ‘n ryke vonds van fossielrotsmonsters wat die aarde se ontstaan verduidelik.
Hierdie uitstappie was ‘n wonderlike geleentheid om die verband tussen geologie en biologie te ervaar. Langs die pad het leerders die geleentheid gehad om unieke rotsformasies, klippe en plantegroei van nader te bestudeer, asook om die asemrowende omgewing te besigtig. In die woorde van die klub se lede sal “die inligting oor eeue oue rotsformasies vir eeue by ons bly”. Die Geotrail is ‘n definitiewe aanbeveling vir enigiemand met ‘n lus vir avontuur, interessante feite of selfs net die liefde vir ‘n mooi uitsig.