Hoërskool Nelspruit het op 18 Julie saam met die res van Suid-Afrika die voormalige president Nelson Mandela se geboortedag gevier deur vier rolstoele aan minderbevoorregtes en instansies wat minderbevoorregtes help, te oorhandig.
Die skool het drie jaar gelede ‘n doppie-projek aangepak waartydens daar 600kg plastiek doppies ingesamel is en die skool sodoende onlangs vier rolstoele inruil daarvoor gekry het. Die rolstoele is aan Silwer Dae-ouetehuis in Waterval-Boven, Kamagugu Inclusive School, Jacaranda FM en NHS se gimnasium bemaak.
Dit is op Mandeladag by die skool aan hierdie instansies oorhandig terwyl leerders, wat in groen, geel, wit, swart, blou en rooi geklee was, in ‘n formasie in die vorm van die landsvlag bymekaargekom het. Die landsvlag simboliseer eenheid en die uitbeelding op Madibadag simboliseer die feit dat Hoërskool Nelspruit as deel van ‘n gemeenskap nie net ‘n belangrike rol speel in die opvoeding van sy leerders nie, maar ook op sy beurt deel is van ‘n groter gemeenskap van omgee vir ander. Die formasie was Woensdagoggend vanuit die lug in die skool se parkeerterrein te siene.
Die projek is deel van die skool se Nellie Hart-inisiatief wat ‘n kultuur van diensbaarheid by die skool dryf en aansluit by die beweging om elke dag ‘n “Mandeladag” te maak.