Ethan Klassen, ‘n Gr.11 leerder van Hoërskool Monument (Monnas) in Krugersdorp het kop en skouers uitgestaan bo die res toe hy sy derde agtereenvolgende 100-tal gemoker het. Ethan het diè hoogtepunt bereik tydens ‘n Monnas 1 teen Waterkloof 1 wedstryd, Saterdag 17 Februarie.
Hy het in sy 5 kolfbeurte tydens die Finsbury kompetisie reeds 357 lopies aangeteken teen ‘n kolfgemiddeld van 89.3 lopies per beurt van slegs 249 balle. Al diè tellings is aangeteken teen gerekende krieketskole in Suid-Afrika.
Ethan is Monnas se eerste span paaltjiewagter en nommer 4-kolwer. “ Ethan speel ‘n groot rol in Monnas se eerste span as paaltjiewagter.
Hy het alreeds 6 vangkanse benut agter die paaltjies in die Finsbury-kompetisie asook twee stonkgeleenthede van sy draaiers af”, het George Engelbrecht, kriekethoof van Monnas gesê.
Dit wil ook voorkom asof Ethan baie lekker saam met die junior kolwer, Marno Potgieter kolf. Hulle was al in twee groot vennootskappe betrokke naamlik: 113 lopies teen Potchefstroom Volkskool en ‘n 84 lopie vennootskap teen Hoërskool Waterkloof.
Ethan se grootste droom is om so lank moontlik goed te doen vir sy skool se 1ste span en 10 honderdtalle aan te teken in die 2018-seisoen. “My korttermyn doelwit is om die Gauteng O.17/19-skolespan te verteenwoordig op Krieket-Suid-Afrika Nasionale krieketweek Desembermaand en dan nog lank vir die Randfontein Krieketklub se premierliga-span te speel. Ek wil dan natuurlik ook eendag vir die Proteas speel”, het Ethan gesê.
Monnas is baie trots op jou, Ethan!