Hoërskool Langenhoven. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Fayden Sefoor, Hoofseun van Hoërskool Langenhoven in Riversdal, vir 2022.
Fayden, hoe sien jy jou rol as hoofleier van jou skool?
My rol is om die stem te wees waar my mede-leerders nie kan nie. Dit is iets wat ek wil nastreef om te doen tydens my termyn.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Langenhoven jou vir die rol as leier voorberei?
Ek kon met twee goeie jare afskop, wat my waarlik gewys het hoe om ‘n balans tussen my akademie en net die lekker geleenthede wat die skool gebied het, te hou. Waar my laaste paar jare gepaard gegaan het met tye wat nie altyd so maklik was nie, is my verkiesing iets wat my net kan sterker maak vir alles wat ek volgende gaan teëkom.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek kyk definitief op na my ouers en goeie leiers soos Nelson Mandela.
Watter studierigting beoog jy na skool?
Ek sal graag argitektuur wil aanpak.
Wat staan vir jou die meeste uit by die Dasse?
Die manier hoe ons verenig as ‘n skool wanneer ons moet, soos langs die sportveld tydens interskole. Dis asof almal vergeet het wat gister gebeur het en net waarlik saamstaan.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek voel dat sport, kultuur en selfs enige ander aktiwiteit wat ‘n leerder in belangstel, ewe belangrik is. Ek sal dan eerlik sê, maak dit verpligtend dat daar deelname moet wees in ten minste iets soos in sport of kultuur.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Ek het die meeste geniet om te sien hoe ek as persoon gegroei het en net ook hoe my vriende om my verander het. Die feit dat ek verskeie dinge al gesien het en die kennis wat ek al opgedoen vanaf waar ek begin het. Dis waarlik ‘n voorreg.
Wat is jou doelwitte vir Langenhoven tydens jou dienstermyn?
Ek wil bou aan die persone wat oor ‘n paar jaar in my skoene gaan staan deur ons skool se grense te verbreed en spanwerk te bevorder.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die feit dat ek so bevoorreg is om in ‘n skool soos Hoërskool Langenhoven te wees. ‘n Skool wat goeie onderwys aanbied en wat my getrou kan hou aan waarvandaan ek kom.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van jou skool te word?
Op Dasseland word jy baie gou deel van die familie. Dis regtig ‘n skool waar jy kan wees net wie jy wil wees – hier is elkeen iemand.
Wat is jou toekoms-ideale?
Ek wil graag suksesvol wees in my beroep en sodoende te kan voorsien in my behoeftes asook dié van my geliefdes.
Lees meer oor Hoërskool Langenhoven: