Hoërskool Langenhoven. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Madré Davids, Hoofdogter van Hoërskool Langenhoven in Riversdal, vir 2022.
Madré, hoe sien jy jou rol as hoofleier van jou skool?
Vir my gaan dit nie oor wat ‘n leier sê nie, maar eerder wat ‘n leier doen. Ek sien my rol as hoofleier dat ek werklik daar moet wees vir my mede-Dasse. My graad sal ek verteenwoordig in die goeie en die slegte. Ek aanvaar my verantwoordelikhede. Om altyd nederig te wees in alles wat ek aanpak. Om werklik vir Langenhoven se leerders ‘n voorbeeld te wees.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Langenhoven jou vir die rol as leier voorberei?
Die leiers wat voor my aangewys was, was definitief vir my ‘n goeie voorbeeld. Ek kan voorwaar na elkeen van hulle opkyk. Hulle het die posisie met soveel nederigheid en passie gevul. Ek het geleer hoe om die leerders te verstaan en werklik na elkeen se stem te luister. Dit was nog altyd duidelik wat van Langenhoven se leiers verwag word en ek kon leer hoe opgetree moes word om ‘n goeie leier te wees – met of sonder ‘n balkie.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek sien op na my ma vir inspirasie. Alles wat sy aanpak doen sy met die grootste liefde. Sy sorg altyd dat haar medemens se behoeftes bevredig is voordat sy haar eie begeertes bevredig. Sy lei haar skool, personeel en leerders met waardigheid en integriteit. Waarlik ‘n vrou waarna ek opkyk. In haar besige lewe maak sy altyd tyd vir my. Om raad te gee of sommer net om te luister.
Watter studierigting beoog jy na skool?
Ek besluit nog tussen twee rigtings. Ek wil graag universiteit toe gaan waar ek B.rek wil gaan studeer of andersins wil ek graag tot die mediese wêreld tree met die oog op pediatri.
Wat staan vir jou die meeste uit by die dasse?
Die dasse presteer nie net op een vlak nie. Die leerders word aangemoedig om in sport, kultuur en akademie te presteer. Daar word werklik ‘n gesonde balans gehandhaaf in die skool.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek geniet dit om sport te doen , maar ek voel dat dit leerders se vrye keuse moet wees. Elke persoon ontspan en presteer in verskillende aktiwiteite. Daar is baie opbouende aktiwtiteite soos kultuur wat leerders se kennis kan verbreed.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Die atmosfeer wat heers in die skool. Ongelukkig kon ons nie die afgelope twee jaar geleenthede hê nie, maar Langenhoven se gees het beslis uitgestaan. Daar was altyd ‘n jolige atmosfeer. Selfs die jubbelende atmosfeer in party klasse kon geen persoon blus nie. My klasmaats maak elke dag die moeite werd!
Wat is jou doelwitte vir Langenhoven tydens jou dienstermyn?
Ek weet dat doelwitte belangrik is, maar ek is ‘n persoon wat dinge dag vir dag wil aanpak. Wat ookal tydens my dienstermyn voor my gegooi word, staan ek gereed om deur my aksies daarvan werk te maak. Een van my doelwitte is om ‘n stem vir elkeen te wees sodat niemand uitgesluit word nie. Ek wil, deur netheid te verbeter, die leerders se algehele skooltrots verhoog. Saam met my span wil ek van 2022 ‘n groot sukses maak.
Wat motiveer jou om jou ideale te berreik?
Dit is my hartsbegeerte om myself en al die ander mense wat in my glo, trots te maak. Ek weet dat God my met al my talente geseën het. Ek glo dat jy jou talente moet benut en elke geleentheid wat jy kry met twee hande aan te gryp. Omdat ek so geseënd is en die geleenthede het om hoë hoogtes te bereik, bly ek gemotiveerd sodat ek vir myself die toekoms kan skep waarvan ander dalk net droom.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van jou skool te word?
Van die personeel tot die leerders voel almal altyd welkom in Hoërskool Langenhoven. Die skool presteer danksy ons goeie onderwysers. Ons is baie goed op akademie, met kultuur staan ons voor in die ry en sport kan natuurlik nie agtergelaat word nie! Daar is ‘n plekkie vir elke kind, maak nie saak waarin daardie kind belangstel nie.
Wat is jou toekoms-ideale?
My toekomsplanne sluit in om na skool by die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Ek wil myself so hoog as wat ek kan kwalifiseer. Dit was nog al die tyd belangrik vir my om ‘n verskil in iemand se lewe te maak. Daarom sluit my toekoms-ideale in om vir onbevoorregte kinders die deur oop te maak na ‘n beter toekoms.
Lees meer oor Langenhoven: