Hoërskool Goudveld. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Minke van Wyk, Hoofdogter van Hoërskool Goudveld in Welkom vir 2022.
Minke, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Goudveld?
Ek sien myself as die skakel tussen die skoolhoof, onderwysers en leerders. Ek verteenwoordig hulle en hul belange as ‘n ambassadeur van my skool. My grootste uitdaging en doel is om te lei deur die voorbeeld wat ek stel.
Dink jy dat die maatreëls wat die regering tov Covid-19 vir skole ingestel het voldoende is?
Menslike groei en ontwikkeling word maar altyd deur uitdagings gedryf. Die regering het regulasies in plek gesit en daarom glo ek mens gaan twee uitkomstes hê:
-Sommige kinders gaan makliker op hul eie en onafhanklik leer en werk.
-Ander gaan weer meer sosiale of begeleide leer nodig hê.
Daar is baie positiewe en negatiewe punte wat ek kan noem, die regering het riglyne neergelê, dit is ons keuses of ons dit as ‘n hindernis of as ‘n uitdaging gaan sien en aanpak.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
My mentors is beslis my ouers. Hulle leer my om deur my passie en vermoë ander te inspireer. By hulle het ek geleer dat leierskap nie ‘n posisie of ‘n titel is nie, maar eerder ‘n “voorbeeld” in aksie.
Watter studierigting beoog jy na skool?
Ek is nog nie honderd persent seker nie, maar ek oorweeg die volgende rigtings waarin ek met mense kan werk.
-Oudiologie en Spraakterapie
-Arbeidsterapie
Dink jy dat Suid-Afrikaanse skole voldoende geleenthede bied vir die studie rigting wat jy gaan volg? Verduidelik waarom?
Ek glo dat Suid-Afrikaanse skole voldoende geleenthede bied vir die studierigtings wat enige leerder wil volg, maar Goudveld Hoërskool is beslis nommer een! Soos ons altyd sê: ”Daar is net een nommer 1! ”Gouties bied verskeie geleenthede vir ieder en elk en dra elke leerder se belange op die hart. Ons onnies is beslis tops! Gouties huisves goeie waardes wat ons elke dag uitleef.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek glo sport bied kinders die geleentheid om hulself uit te leef in iets wat hulle geniet en bied terselfdetyd die geleentheid waar hulle somtyds “onwetend” lewenslesse leer. Die spreekwoord sê: ”ń Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. ”Kan ons sport verpligtend maak…Ja ons kan, maar ek glo eerder daarin om gelyke geleenthede daar te stel waar sport, kultuur en akademiese leerders hulle 100% kan uitleef en hulle stempel afdruk in dit waarin hulle goed is en waarin hulle, hul passie kan uitleef.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Iets wat vir my kop en skouers uitstaan van my skoolloopbaan is beslis die kosbare oomblikke van samesyn. Daar was verseker druk van hersiening en eksamenstres, maar die vreugdes was soveel meer. Skool gaan oor soveel meer as net huiswerk. Die gees wat Gouties bring, is ongelooflik en sal my, my lewe by- bly. Gouties bring iets anders na die tafel want ,”met die gees van moed sal ons triomfeer.”
Is jy 100% seker van jou studierigting na skool? Verduidelik jou antwoord?
Ek is nie doodseker wat ek wil studeer na skool nie, maar ek het verskeie studierigtings waarin ek belangstel. Ek glo dat tyd sal leer en dat ek teen volgende jaar my besluit sal maak.
Na watter Universiteit gaan jy volgende jaar?
Dit hang af van die keuringsprosesse van verskeie Universiteite.
Foto verskaf
Lees meer oor Gouties: