Hoërskool Florida. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Charlize Gage en Tristan de Hart, Hoofdogter en Hoofseun van Hoërskool Florida, vir 2022
Charlize en Tristan, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Florida?
Charlize: Ek glo dat leierskap nie ‘n titel of posisie is nie, maar eerder ‘n aksie en ‘n voorbeeld. My rol as volwaardige Florrie is om my leierskap toe te pas deur ander te help om hulle talente raak te sien en hulle vermoëns te ontwikkel sodat hulle op hulle beurt ook ander mense kan inspireer.
Tristan: Dit is vir my ‘n groot eer om Hoërskool Florida te kan verteenwoordig as hoofseun van 2021/22. Ons werk hard om ‘n massiewe impak op ons skool en ons mede-leerders te hê.
Dink jy dat die maatreëls wat die regering tov Covid-19 vir skole ingestel het voldoende is?
Charlize: Ja, dit is voldoende, maar ek sou dalk byvoeg dat buitelug skool voorgestel kon word in die somer, in plaas van klaskamers. Op warm dae is daar nie ventilasie nie en sodoende kan die virus in die lug bly hang in die klaskamer. Alle skole het sportvelde, buite-klaskamers met gazebo’s. Op warm dae kan dit dalk ‘n opsie wees.
Tristan: Ek glo so. Al die leerders word gesaniteer by elke klas en ons word gesaniteer en geskandeer as ons aanteken in die oggend.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Charlize: My inspirasie kom van Emily Gray. Op 11-jarige ouderdom moes sy besluit het om haar linkerbeen te amputeer as gevolg van kanker. Sy was gemotiveerd om vir haarself te veg al was die uitdaging moeilik. Maar sy het die vrugte daarvan gepluk en ‘n Sringbok-swemmer geword. Sy het my geleer om te aanvaar dat daar dinge in die lewe is wat jy nie kan verander nie, maar jou passie om nie op te gee nie, aanvaar dinge soos dit is en moet jouself nie bejammer nie. Niemand is volmaak nie en dit wat jy van jou eie omstandighede en jou lewe maak, is wat tel. Elkeen stry sy eie stryd, beweeg vorentoe en streef vir wat jy soek in die lewe.
Tristan: Ek kyk definitief op na my oupa wat ‘n rukkie gelede oorlede is. Ek mis hom baie.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Charlize: ‘n Biologiese rigting – ek hou daarvan om lewende organismes te ondersoek en vind dit baie interressant.
Tristan: Ek wil in verkope in gaan en die wêreld deurreis, of oorsee gaan werk as ‘n Engels-onderwyser vir ‘n begin.
Dink jy dat Suid-Afrikaanse skole voldoende geleenthede bied vir die studierigring wat jy gaan volg? Waarom?
Charlize: Ja, en nee. Ek voel dat jou eerste jaar in die junior fase (graad 8) moet amper soos ‘n “gapingsjaar” aangebied word. Die leerder moet alreeds in hierdie jaar baie meer te wete kom oor verskillende beroepe dmv materiaal/videos/praktiese klasse/ ens. Dan sal vakkeuses einde graad 9 baie meer doeltreffend wees.
Tristan: Ja, ons skool bied verskeie vakke aan, maar daar is te min skole wat so baie vakke aanbied.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Charlize: Definitief – Sport bied soveel voordele aan. Fisiese gesondheid, emosionele en verstandelike voordele. Dissipline is ook hier ter sprake. Leerders kan hulself uitleef in iets wat hulle geniet sowel as spanwerk wat ook belangrik is vir jou toekoms.
Tristan: Ja, sport op skool bring leerders bymekaar en leer hulle dissipline en spanwerk. Sport het ‘n baie goeie impak op ‘n persoon se gesondheid.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Charlize: Florrie Magic is en was nog altyd my gunsteling. Sportbyeenkomstes – almal wat op die pawiljoene sing en geesvang. Netbal saam fantastiese vriendinne wat familie geword het en hoe ons as ‘n eenheid gegroei het. Wonderlike onderwysers wat gehelp het om ons hoogtepunte te bereik in kultuur, akademie en sport. Beslis die Jokfees – dis ‘n treffer.
Tristan: Die rugby en atletiek was vir my baie lekker, maar ons skool se gees is altyd so “aan die brand!”
Is jy 100% seker van jou studierigting na skool? Verduidelik jou antwoord.
Charlize: Nee, ek is nie heeltemal seker nie. Ek beoog om dalk eers na skool in te skryf vir die gapingsjaar-program by Equilibria Skool of Life in Potchefstroom.
Tristan: Née, ek besluit nog.
Na watter Universiteit gaan jy volgende jaar?
Charlize: NWU Potchefstroom
Tristan: Ek is nog nie seker nie. Ek sal graag na Pukke toe wil gaan om my sport te bevorder en te gaan studeer.
Lees meer oor Florries: