Die afgelope week was die Erries hard aan die speel op die veld en die baan met liga- en vriendskaplike-wedstryde.
Op Donderdag 24 Mei 2018 speel die EHS se netbal A-spanne ligawedstryde teen Ligbron Akademie vir Tegnologie. Die o/14-span het pragtige netbal gespeel en wys Errie-guts tot op die laaste minuut en wen met 8 doele teenoor 7. EHS se o/15A- en o/16A-spanne verloor ongelukkig onderskeidelik met 9-13 en 3-21. Die Hoërskool Ermelo Calstar Eerste Netbalspan maak die Erries besonder trots. Hul loop vanaf die eerste kwart voor en Ligbron kon eenvoudig net nie inhaal nie. Hulle speel puik netbal en dit was duidelik dat hul goed voorbereid was. Die doele was akkuraat en die span het met hart en siel gespeel. Hierdie span stap met ‘n oorwinning van die veld af van 30 doele teenoor 26. Graag wil ons die borg, mnr. Muhammed Bhyat van CALSTAR bedank vir sy teenwoordigheid en ondersteuning.
Dieselfde dag vat EHS se tweedespan hokkiedogters Curro Bankenveld se eerstespan aan in Witbank. Die Erries wen hierdie vriendskaplike wedstryde gemaklik met 3 doele teenoor 1. Yonette Fourie, Clariz Olivier en Zelné de Jager is hier die puntemakers.
Op Saterdag 26 Mei 2018 speel die Erries hul laaste ligawedstryde vir die seisoen teen Hoërskool Standerton. EHS speel aanskoulike hokkie en rugby. Goeie spangees het geheers, terwyl elke Errie alles in die stryd gewerp het vir hul spanne en skool.
Hier volg die dogtershokkie se uitslae:
o/14A wen: 3 – 1. Hierdie jong spannetjie is liga-wenners vir 2018. Sinethemba Nkosi teken 2 doele vir haar span aan, terwyl Carla Ferreira 1 doel slaan.
o/15A speel gelykop 1 – 1. Die span is liga-wenners. In `n harde wedstryd veg hierdie span met hand en tand. Mignon Ferreira teken die doel vir haar span aan.
o/16A wen 6 – 0. Hierdie span is liga-wenners. Die Erries is baie trots op hierdie span wat so mooi ontwikkel. Errie-guts is iets wat hierdie dogters in elke wedstryd toon. Meghan Houy en Jana Nel teken elk 2 doele aan, terwyl Zeldine Pienaar en Micheala Erasmus elk 1 doel slaan.
Die tweedespan wen 4 – 0. Hierdie span is ook liga-wenners. Baie geluk aan Yonette Fourie wat 3 doele aanteken en Clariz Olivier wat 1 doel slaan.
Hoërskool Ermelo Calstar Eerste dogtershokkiespan wen 2 – 1. Hierdie span speel hokkie wat die toeskouers byna hul naels laat kou! Simoné Ferreira teken die eerste doel aan. In die tweede helfte is die telling 1 – 1 en die Erries veg tot die eindfluitjie blaas. Die wedstryd eindig met ‘n hoekie wat afgehandel moet word nadat die eindfluitjie geblaas het. Die Erries gebruik hierdie geleentheid ten volle en Kelly-Anne Bourn slaan die wendoel. Die span is liga-naaswenners.
Die Erries se rugbyspanne het ook goed gevaar.
Die o/14A-span wen met ‘n uitsonderike telling van 74-0. Ignus Ferreira en Reinhardt Huber druk elk twee drieë, terwyl Diederik van der Walt, Carlo da Silva, Billy van der Walt, Marko Ferreira, Kobus van der Walt Edrick van der Westhuizen, Marius Nel en Juan-Paul Labuschagne elk een drie druk. Laasgenoemde skop ook sewe doelskoppe oor.
Die o/14B-span teken ook ‘n goeie telling van 64-7 aan. Sihle Nkambule teken drie mooi drieë aan, Kwanele Mavuso en Frikkie de Winnaar elk twee en Edrick van der Westhuizen, Philane Khumalo en Bongani Magagula elk een drie. Edrick skop ook sewe doelskoppe oor.
Nog ‘n mooi telling word deur die o/15A-span aangeteken. Hulle stap met ‘n oorwinning van 43-5 van die veld af. Die puntemakers hier is Corné Jansen van Rensburg met twee drieë, Lourens Erasmus, Lunga Cindi, Wonderboy Mnisi en Günter Badenhorst elk met een drie, asook Danie Theron met twee doelskoppe en Corné Jansen van Rensburg met een doelskop.
Ongelukkig verloor die o/15B-span met 8-27. Zimri Büchling druk hier een drie en Günter Badenhorst skop die doelskop oor.
EHS se o/16A-span maak die skool ook trots met ‘n oorwinning van 55 punte teenoor 18. Rabbie Marsh en Zuzumusa Mabuza druk elk drie pragtige drieë, Hardus Rothmann druk twee en Welcome Nkosi een. Hardus skop vyf doelskoppe oor.
Die o/16B-span verloor met slegs 22 punte teenoor 26. Lindu Ndluvo druk twee drieë, terwyl Ruan du Toit en Gawie Diedericks elk een drie druk. André-Dale Groenewald skop een doelskop oor.
Die Erries se tweedespan stap ongelukkig ook van die veld af met ‘n verloor. Hier was die telling 12-45. Tyron Dewar en Cornus van den Berg druk elk een drie en Surprise Nkosi skop een doelskop oor.
Hoërskool Ermelo Nashua Highveld se Eerste Rugbyspan speel harde rugby en dit werp goeie vrugte af toe die span as oorwinnaars van die veld afstap. Dié span wen 37-22. Walter Visser druk twee drieë en skop ‘n doel- en strafskop oor. Johan Nel spog ook met twee drieë, asook met twee doelskoppe en een strafskop. Mtandeni Thomo druk ook vir die span ‘n pragtige drie.
Baie geluk aan elke Errie wat hul deel gedoen het en die EHS se naam hoog gehou het.
Foto heel bo: Willie Greyling