Gedurende die eerste week van skool het elke graad 8-Errie sy/haar groenbaadjie aan ‘n hanger rongedra as deel van die Erries se orienteringsprogram. Die program is daargestel om elke graad 8 te leer wat, wie en hoe die Erries is en funksioneer.
Die afgelope naweek was die orienteringskamp waar die graad 8-Vinke na ‘n Vrydag vol leer en aktiwiteite ‘n toets geskryf het oor die EHS. Hierna volg die besonderse eer om die Erekode van die EHS, asook die pligstaat van die graad 8’s te onderteken in die Tradisiekamer waarna ‘n hoofleier elke Valk dan die baadjie aantrek. Hierdie is simbolies dat die graad 8 nou ‘n volwaardige Errie is en met trots die baadjie kan dra. Die tradisie is in die negentiger jare begin en maak ‘n groot indruk op elke kind.
Elke graad 8 skryf ook sy/haar naam en indruk van die EHS in die Alma Mater Tradisieboek na die erekode-seremonie. Wanneer die leerder die skool verlaat, skryf hy/sy die datum en ‘n uittreewoord langs sy/haar naam.
Op Saterdagoggend, 20 Januarie 2018, het elke ouer van die graad 8’s die voorreg gehad om weer die baadjie vir hul kind aan te trek op die verhoog van die EHS se Ouditorium. Dit dui op die besonderse betrokkenheid van die ouers en die belangrikheid daarvan. Jy kon voorwaar die trots in elke ouer en kind se oë gewaar!
Welkom, liewe graad 8-Erries. Mag julle vlerke vorm sodat jul nie net vlieg nie, maar sal sweef. Die Erries is trots om julle as deel van die EHS te kan hê. Sterkte vir die jaar wat voorlê!
Op die foto heel bo: Cailyn Loock
Op die foto onder:
Lusanti Brundyn trek se Zane Threon baadjie aan