Op Woensdag 27 Februarie het die ERRIES se graad 11-landbouleerders, as toekomstige voedselvoorsieners, die Pannar-boeredag by Delmas bygewoon.
Die kwartaaltema van dié leerders van Hoërskool Ermelo is mielieproduksie, daarom het die praktiese dag perfek by hulle sillabustema aangesluit.
Die leerders het baie geleer tydens die bespreking van verskeie temas oor mielieproduksie, sowel as soja- en sonneblomproduksie. Hulle het geleer van grond-pH, mikro- en makrominerale, aanpasbaarheid, verskillende kultivars, wisselbou, organiese boerdery, groeistadiums van die mielieplant en verskeie ander temas.
Dit was ‘n uitstekende en suksesvolle dag van praktiese kennis.
Foto bo: Die groep graad 11-Landbouleerders by die Pannar-dag