Schools That Rock publiseer kort berigte van ‘n aantal oud-leerders van skole op ons Facebook en Webtuiste.
Hoërskool Despatch in die Oos-Kaap het ‘n oud-leerder gelewer wat na skool, beslis sy merk in die lewe gemaak het!
Johan ‘Rassie’ Erasmus, oud-leerder van Hoërskool Despatch, het geen bekendstelling nodig nie. Rassie het ook sy merk gemaak as Springbok-rugbyspeler – maar nie net as speler van die groen en goud nie – ook as kaptein en Springbok-afrigter (2018) en tans Direkteur van Rugby in Suid-Afrika. Rassie was ook die Direkteur van Rugby van Ierland se Munster. Na die Springbokke se oorwinning van die Wêreldbeker in 2019, het Rassie die toekenning as Wêreldrugby Afrigter van die jaar 2019 ontvang.
Rassie het sy elite rugby-loopbaan by die Vrystaat begin tydens die 1994 Curriebeker. Hy was ook deel van die Vrystaatspan in die 1997 Super 12 seisoen. Hy is ook in Julie 1997 opgeroep vir die Springbokke voor die Britse Leeus se toer in Suid-Afrika. Rassie het sy debuut gemaak op 5 Julie vir die derde toets teen die Lions. Die bokke het hierdie wedstryd gewen met 35 – 16. Op 23 Augustus het Rassie uitgedraf as flank teen Australië. In dié wedstryd het hy sy eerste drie vir die bokke gedruk waar die bokke met 61 – 22 in Pretoria gewen het. Tydens die Drie-nasies reeks in 1999 was Rassie die kaptein van die Springbokke. Hy was ook deel van die Bokke vir die 1999 Wêreldbeker.
Aan die einde van die 2003 seisoen het Rassie besluit om, na 10 jaar, sy stewels op te hang. Daarna was hy afrigetr van verskeie spanne: 2004-2006 Vrystaat Cheetahs; 2006-2007 Cheetahs; 2007 Suid-Afrika (tegniese adviseur); 2007 – 2010 Westelike Provinsie; 2008 – 2011 Stormers; 2011 Suid-Afrika (tegniese adviseur); 2016 – 2017 Munster; 2017 – 2018 Suid-Afrika; 2018 Barbarians.