“Stand by, en 1,2,3 ..” Dit was die woorde wat op 28 Julie 2016 deur Hoërskool De Aar se gange weergalm het. Die langverwagte besoek van KykNet Skole top 10 het uiteindelik aangebreek. Gert en Brenton het die leerders en personeel van HSDA behoorlik soos miere laat rondskarrel.
Na ure se beplanning én tekste voorberei, was Hoërskool De Aar uiteindelik slaggereed om vir Suid Afrika te wys van watter stoffasie hul gemaak is. Die verfilming het douvoordag in die saal afgeskop met die sing van die “Eagles song” en die skoollied. Daar moes uit verskeie hoeke kameraskote geskiet word, en alles moes ‘n paar maal herhaal word.
Die bal is aan die rol gesit en ‘n dag met verskeie items, wat nog op die lens verewig meos word, het voorgelê. Ten spyte van ysige koue weer, kon niks on sleerders onderkry nie. Die leerders was gefokus, puik gedissiplineer en het trots uitgestraal.
Die dag is afgesluit met ‘n gesellige steakbraai waar daar opgewonde besin is oor die dag se gebeure. Die Kyknet-span kon nie uitgepraat raak oor die Karoo-gasvryheid nie, en hul was beslis verras met Hoërskool De Aar! Die Skole Top 10 –program waarin Hoërskool De Aar die hoofrol speel, word op kanaal 146 gebeeldsend. Die datums en tye sien as volg uit: 15 en 17 Augustus 2016 om 17:00 tot 18:00. 19 Augustus 2016 om 15:00 tot 16:00.
Intussen tel Hoërskool De Aar die dae af en kan nie wag vir: “Stand by, en 1,2,3 …. om aan te breek nie!
Become a Sponsor