Hoërskool Cradock se eerste krieketspan het Saterdag op sy tuisveld in alle afdelings van die spel die bo-toon gevoer en met 112 lopies teen die Hoërskool Middelburg gewen.
Cradock het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en 197/4 in sy toegelate 40 beurte aangeteken. Lea Rasmeni met 55 en Ryan Gower met 45 was weer in ‘n voortreflike 99-lopie vennootskap betrokke. Siphe Nofukuka en Niël Sabbert met 22 en 16 onoorwonne lopies onderskeidelik, was self in ‘n mooi vennootskap van 40 lopies om die vierde paaltjie betrokke. Reinhardt Pelser, Henru Geldenhuys, Brendon James en Adrian Joubert neem 1 paaltjie elk vir Middelburg.
Hoërskool Cradock se boulers sukkel aanvanklilk met hul lyn maar slaag nogtans daarin om Middelburg vir 85 uit te boul. Ryan Gowar oes 5 paaltjies in vir net 15 lopies vir ‘n goeie veelsydige vertoning. Raymond Tom neem 2/13 en Siphe Nofukuka, Kanya Papu en Latisio Nomatye, 1 paaltjie elk.