[et_pb_section bb_built=”1″][et_pb_row][et_pb_column type=”4_4″][et_pb_text _builder_version=”3.12.2″]
Die jaarlikse Bestmed TAMS Superspar Madibaz Top 10 Atletiekbyeenkoms het op Saterdag 13 Oktober by die Cradock Sportkompleks plaasgevind. Hierdie byeenkoms is vanjaar vir die dertiende agtereenvolgende jaar met trots deur Hoërskool Cradock aangebied.
Skole van so ver as Upington en die Boland reis elke jaar na Cradock om hul atlete tydens hierdie voorseisoen-byeenkoms te meet teen top atlete van regoor die land.
Altesaam nege-en-veertig skole het vanjaar aan die byeenkoms deelgeneem, met 841 atlete wat meegeding het vir die top posisies. Die beste veld- en baanatleet ontvang elke jaar ‘n kontantprys. Daar is ook die gesogte TAMS Superspar wisseltrofee en gepaardgaande kontantprys vir die beste presterende skool waarvoor daar hard meegeding word. Hierdie jaar was dit die Kwaggas van Hoërskool Outeniqua wat as toppresteerders met ‘n pragtige 8933 punte op die ASA-tabel koning gekraai het. Despatch Hoërskool (8642) en Hoër Jongenskool Paarl (850) het onderskeidelik in tweede en derde posisies geëindig.
Die beste baanatleet was B. du Toit van Hoërskool Duineveld, terwyl M. Strydom van Hoërskool Outeniquas as die beste veldatleet bekroon is. Sterk, kompeterende atlete het altesaam 158 goue-, 138 silwer- en 12 brons medaljes verower, ‘n wonderlike bewys van die hoë kwaliteit atletiek wat te sien was. ‘n Pragtige twintig byeenkoms-rekords is tydens Saterdag se kompetisie verbeter.
Hoërskool Cradock se atlete het puik vertonings gelewer op die baan asook in hul onderskeie velditems en sterk opposisie van skole soos Hoër Jongenskool Paarl, Hoërskool Nico Malan, Pearson Hoërskool, Queen’s College, Selbourne High School oorrompel om in die algehele sestiende posisie te eindig met 7348 punte op die ASA-tabel. Altesaam negentien medaljes is deur die atlete van Hoërskool Cradock verower.
Janade Bouwer verower goue medaljes in beide die driesprong sowel as spiesgooi vir M. o/19 terwyl Houghlynne Swarts in dieselfde ouderdomsgroep twee goue medaljes wen vir onderskeidelik verspring en spiesgooi. Iviwe Booysen neem deel aan die 400m- en 800m wedlope vir M.o/19 en wen in beide hierdie items ‘n silwer medalje.
Clairigan Jacobs wys dat hy enige dag met die langasems van groter stadskole kan kers vashou en wen ‘n silwer medalje in die 5000m vir M.o/19. Marike Dannhauser wys haar slag as naelloper en hardloop ‘n goue medalje los in die 200m vir D.o/19.
Verdere medaljes sluit in: Zanelle Weitz wen brons in diskus D.o/19, Elanie de Wet wen silwer in 800m D.o/17, Roshay Hendricks wen goud in 100mH vir D.o/17, Beaulane van Jaarsveld wen goud in D.o/16 gewigstoot, Marine Wilken wen silwer vir 1500m D.o/16, Litha Hermanus wen goud vir 100m D.o/15 en silwer vir 400m in dieselfde ouderdomsgroep. Showan Mayeki wen twee silwer medaljes vir 100m en 200m S.o/14 met JG Michau wat ‘n silwer medalje ontvang in die S.o/14 hamergooi.
Hoërskool Cradock bedank graag elke atleet wat deelgeneem en bygedra het tot die wonderlike atmosfeer by die Cradock Sportkompleks. ‘n Besondere woord van dank ook aan die titelborge Bestmed, TAMS Superspar en Madibaz Atletiek wat die aanbieding van hierdie byeenkoms moontlik gemaak het. CHS en besoekende atlete was bevoorreg om ook vir LJ van Zyl, Suid-Afrikaanse 400mH rekordhouer en Olimpiese atleet by die byeenkoms te hê. LJ is ‘n ambassadeur vir Bestmed en het behulpsaam geraak as afsitter vir die 400mH wedlope, tydhouer en ook ‘n handjie bygesit deur medaljes aan suksesvolle atlete te oorhandig.
Dit is reeds die tweede jaar dat LJ die Top 10 Atletiekbyeenkoms bywoon en dit bly altyd ‘n eer om ‘n sportman van sy kaliber by hierdie byeenkoms te ontvang. LJ het vanjaar ook ‘n afrigtingskliniek en motiveringspraatjie aangebied vir alle Top 10 atlete, op Vrydag 12 Oktober. Tydens hierdie sessie het hy kennis en wenke gedeel oor voorbereiding vir byeenkomste, vrae beantwoord oor tegnieke en oefenprogramme en ook so paar praktiese oefeninge met die atlete behandel.
CHS wil graag vir LJ, elke ondersteuner en beampte wat hul beskikbaar gestel het om te help, bedank vir hul betrokkenheid. Hierdie Top 10 byeenkoms geniet goeie belangstelling van vooraanstaande skole in die land en het oor die laaste dekade gegroei tot een van die land se grootste skole-atletiekbyeenkomste. Dit is alles egter onmoontlik sonder die lojale ondersteuning van ons borge en die gemeenskap en daarvoor bedank CHS elkeen opreg.
Op die foto links: LJ van Zyl, Suid-Afrikaanse 400mH rekordhouer, Olimpiese atleet en ambassadeur van Bestmed, saam met CHS atlete tydens ‘n afrigtingskliniek wat aangebied was op Vrydag 12 Oktober.
Hierdie kliniek was deel van die jaarlikse Bestmed TAMS Superspar Madibaz Top 10 Atletiekbyeenkoms wat met trots deur Hoërskool Cradock aangebied is.
Vlnr: LJ van Zyl, Ian Rieck, Zanri Nel, Iviwe Booysen
Litha Hermanus, atleet van CHS, met haar goue medalje wat sy in die 100m vir D.o/15 gewen het.
[/et_pb_text][et_pb_gallery _builder_version=”3.12.2″ gallery_ids=”17677,17678,17679,17680,17681,17683,17684,17685,17686,17687,17688,17689,17690,17691″ posts_number=”16″ show_title_and_caption=”off” zoom_icon_color=”#007dc2″ hover_overlay_color=”rgba(255,255,255,0.9)” /][/et_pb_column][/et_pb_row][/et_pb_section]