Hoër Meisieskool Paarl. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Zanke Nell, Onderhoofdogter vir 2022, van Hoër Meisieskool Paarl in die Paarl.
Zanke, hoe sien jy jou rol as Onderhoofdogter van Hoër Meisieskool Paarl?
My droom is om brûe te bou tussen rolspelers in die skoolomgewing en die mense rondom my te bemagtig. Die voorreg om my medeleerders te verteenwoordig, moet ek gebruik om die ideale van die leerders en die planne van die bestuur te verbind.
Hoe het die afgelope vier jaar by HMS Paarl jou vir die rol as leier voorberei?
Ek ken die skool en ek ken die meisies. Ek verstaan die drome – die geleentheid om dit te laat realiseer maak my opgewonde. Die mense wat my pad gekruis het het my toegerus met kennis, ‘n ondersteuningsnetwerk, vaardighede en verstaan wat kan help om HMS tot hoër hoogtes te lei.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek het verskeie persone wat ‘n rol speel in my lewe, maar Juffrou Maré Bosch is my amptelike mentor. Haar navolgenswaardige benadering tot die lewe, sagte hart en gewilligheid om my te help groei is my grootste inspirasie. Vir iemand so impulsief en reguit soos ek, kon daar nie ‘n beter mentor wees nie.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Dis my dogtertjie-droom om medies te studeer. Ek kom uit ‘n familie vol dokters en, om my pa aan te haal, het ek besluit om soos ‘n skaap te maak.
Wat staan vir jou die meeste uit by Hoër Meisieskool Paarl?
Die hegte verhoudings en holistiese benadering tot opvoeding skep ‘n omgewing waar drome bewaar word en groei aangemoedig word. Die ruimte van geborgenheid en die ondersteuningsnetwerk wat jou omring, bemagtig elke individu om haar ideale na te jaag.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Sport se waarde in ontwikkeling kan nie ongesiens verbygaan nie. Dit leer mens van volharding, saamspeel en die stampe en stote van die lewe. Verpligtend? Beslis nie – dit sou die geleentheid antagoniseer en in ‘n slegte lig plaas. Sport se nederlae en oorwinnings vorm karakter, maar om deelname aan te moedig sal meer groei verseker as wat verpligting ooit sou.
Wat het jy sover die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Tussen laat-aand swem, oggende onder die akkerbome, interskole hokkie en koshuiskind-wees, kan ek sonder twyfel se dat ek elke oomblik van my skoolloopbaan geniet het. Dit wat uitstaan is egter nie ‘n groot gebeurtenis of spesiale geleentheid nie, maar eerder die mense waarmee ek omring is. Die kwaliteit mense wat my pad kruis sorg werklik vir die meeste genot. Ek glo dat my skoolloopbaan se einde in sig is, maar ek is oortuig dat die avontuur wat my tot daar sal lei net soveel genot sal verskaf.
Wat is jou doelwitte vir HMS Paarl tydens jou dienstermyn?
HMS Paarl is ryk aan tradisies met ‘n fondasie op ‘n ouderdomshiërargie. In ‘n vinnig veranderende, vooruitstrewende samelewing, is ouderdom nie outoriteit se ekwivalent nie. Ek sou graag denke wou vernuwe en transformeer sodat ervaring en kennis ‘n groter rol speel en die skoolomgewing die invidu toerus met gepaste denkwyses vir die 21ste eeu.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Ons land skep ‘n omgewing waar ideale-bereik ‘n groter uitdaging stel. Weens hierdie omstandighede maak dit die verwesenliking van ideale meer bevredigend en invloedryk as enige ander plek op die planeet. Dít motiveer my.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van HMS Paarl te word?
Ek sal nie my vinger kan plaas op die akkerbome, die strewe om te groei of die lewenslus van die onderwysers om die unieke ruimte te verduidelik wat by HMS Paarl geskep word nie. Die laerskooldogtertjies op die skoolgrond en die spesiale verhoudings oor grense dra ook by tot die spesiale atmosfeer wat hier heers.
Wat is jou toekoms-ideale?
Ek sou myself definitief nie as ‘n 5-jaar-plan tipe mens beskou nie. In my ideale wêreld sal ek terugkyk op my lewe met ‘n hart wat oorloop van herinneringe, ‘n mediese graad op my naam en ‘n paspoort vol stempels. Of ek ‘n stadsjapie of ‘n dokter onder ‘n boom gaan wees – ek sal graag ‘n klein verandering wil maak, ‘n paar mense beïnvloed om dieselfde te doen en ‘n positiewe bydrae lewer wat verder strek as my direkte omgewing.
Foto verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za