Kaylim Cordier
Kaylim Cordier, van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, het in 2016 op die plaas aangekom met ’n tas vol drome en verwagtinge. Hy het egter gou besef dat dit sy verantwoordelikheid is om hierdie drome waar te maak. Die resep: harde werk.
Kalylim is reeds aan die begin van sy graad 9-jaar in Oakdale se eerste krieketspan ingesluit. Harde werk was aan die orde van die dag en in sy graad 11-jaar het hy die eerste 100-tal teen ’n gedugte Glenwood-span aangeteken. Hierdie beurt het waarlik getuig van temperament, volwassenheid en deursettingsvermoë. Met die aanvang van Kaylim se laaste krieketseisoen op Oakdale, was dit duidelik dat hy iets groots wou verrig. Hy was vinnig uit die blokke in die eerste T20-wedstryd van die seisoen toe hy 47* van slegs 28 balle teen Worcester Gimnasium aangeteken het. Daarna het die lopies tydelik opgedroog en op 5 Februarie 2020 moker hy 111 lopies van 69 balle teen Hoërskool Oudtshoorn in ’n T20-wedstryd. Minder as twee weke later teken hy 100 lopies teen York High aan en op die 7de Maart doen hy dit wéér; 108 lopies teen Bridgton RPC van Oudtshoorn. Hy het tydens die 2019/2020-seisoen ’n totaal van 756 lopies teen ’n gemiddeld van 47,25 aangeteken wat drie 100-talle en drie 50-talle insluit.
Kaylim het nie net goed met die kolf gevaar nie, maar ook as draaibalbouler. Hy het die vermoë om die kolftempo van ander spanne te beperk deur sy besondere boulvaardighede. Hy het 104 beurte geboul teen ’n gemiddeld van 4.13 lopies per boulbeurt.
As kaptein van Oakdale se eerste krieketspan dien hy as mentor vir jong spelers as toonbeeld van goeie sportmanskap en deel van hulle waardesisteem.