Mnr. DP Badenhorst is op pad na ‘n wêreldbeker! Hy is baie opgewonde oor die geleentheid en sien uit om die SA atlete te ondersteun.
Mnr. DP Badenhorst (Hoërskool Nelspruit-sportspesialis: atletiek) is gekies as lid van die spanbestuur van die Atletiek Suid-Afrika-groep wat vanaf 27 September tot 6 Oktober in Doha, Quatar aan die Wêreld Kampioenskappe in Atletiek gaan deelneem.
Die Khalifa Internasionale stadion maak gereed vir 2000 atlete van 213 lande wat in hierdie tien dae om goue medaljes gaan meeding. Die SA-span van 31 atlete bestaan uit 26 mans en 5 vroue. Die groep word gelei deur die wêreldkampioen, Luvo Manyonga, wat sy wêreldtitel in die verspring sal verdedig. Suid-Afrika het algeheel derde geëindig in die medalje-tabel tydens die 2017 IAAF Wêreldkampioenskappe in Londen, toe hulle drie goue (Manyonga – verspring, Semenya – 800m, Van Niekerk – 400m), een silwer (Van Niekerk -200m) en twee brons medaljes huis toe geneem het (Samaai – verspring, Semenya – 1 500m).