Nog net 2 weke! Groot Interjol is byna hier en aan beide kante van dié GROOT STRYD is mense hard besig met voorbereiding.
Die aksie begin Donderdag, 2 Augustus, wanneer die skuts hul slag sal wys. Die res van die program volg sodra ons meer inligting het.
Vir ons oud-Uppies en ondersteunders kan ons al die volgende deurgee:
Alle Uppies, reünie-groepe en vriende is welkom by ons saalbyeenkoms om 9:00, Vrydagoggend, 10 Augustus. Dit is wel `n skool vakansiedag, maar ons program gaan voort.
Tydens die saalbyeenkoms om 9:00, sal prof. Chris Brink, voormalige Matie-Rektor en oud-Uppie, die byeenkoms inlei met `n praatjie.
Om 10:30 is dit Groot ‘Brag’ en terselfdertyd is daar tee vir die reünie-groepe in die klubhuis. Kom gerus en deel die besonderse oggend met ons.
Saterdag word die dag by Hoërskool Duineveld aangebied en Saterdag sluit ons die dag af met `n heerlike vleisbraai by die Klubhuis. Daar sal `n kontantkroeg wees en dié heerlike ete is slegs R160.
So, kom ons maak ook van dié geleentheid `n groot sukses soos net Uppies kan. Pak jou stoel, jou entoesiasme en `n groot klomp Interjol-gees in jou sak en geniet dié heerlike dag saam met ons.