Gholf. Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch se gholf span, is op 2 Augustus as die wenners van die nasionale Hoërskole gholf kampioenskap aangewys. Die kampioenskap het by Humewood Gholfklub in Gqeberha plaasgevind. Twee-en-twintig top skolespanne van regoor Suid-Afrika het aan die toernooi deelgeneem. Elke skoolspan het uit vier spelers bestaan. Die drie beste brutotellings van elke span is vir elkeen van die twee 18 gate rondtes waarin hulle gespeel het, in aanmerking geneem.
Na dag 1 se 18 gate rondte was Paul Roos met ‘n skamele 2 houe voor McKinlay Reid van George. Danksy goeie gholf weer is daar op dag 2 uitstekende tellings aangeteken. Aan die voorpunt vir PRG was kaptein Jack Brugman (2022 se WP Junior Houespelkampioen) met ‘n uitstekende 69 (-3). Saam met Jack was sy spanmaat Andries van der Vyver 69 (-3). Andries se tweeling broer, Nicolas, het ook uitstekende gholf gelewer en self 71 (-1) houe gespeel. Gerard Hartman kon ongelukkig nie een telling van 74 (+2) verbeter nie en het ‘n 78 (+6) gespeel.
Hierdie puik gekombineerde tellings van die top 3 PRG skoliere (-7) vir dag 2 het Paul Roos buite bereik van hulle opponente geplaas. Dit het hulle gemaklik met 5 houe laat seëvier teen die naaswenners. Hierdie manne was ook ‘n verstommende 14 houe beter as die span wat derde geëindig het.
Die nasionale titel is, sover bekend, die eerste sodanige titel vir Paul Roos Gimnasium. Dit is ook die eerste keer in die roemryke anale van die SA Hoërskoletoernooi dat ‘n wenspan se gesamentlike tellings vir die twee rondtes onder baansyfer was (-3). Andries van der Vyver het ook die individuele titel gedeel met Devon Valentine van Grey High op (-5).
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf