Gerrie Berner Tennistoernooi. Paul Roos Gimnasium se tennisspanne het koning gekraai die afgelope naweek op die tennisbaan. Die eerste-span het na ‘n baie uitdagende naweek daarin geslaag om die Zest Fruit Gerrie Berner Tennistoernooi vir die 5de jaar agtereenvolgens te wen en nog ‘n span seëvier in die jaarlikse Groot 5-tennistoernooi.
Die Zest Fruit Gerrie Berner Tennistoernooi, wat in sy sewentiende jaar is, is deur Paul Roos aangebied en twaalf skole van regoor Suid-Afrika het om hierdie gesogte trofee meegeding. Dit was die 13de titel vir Paul Roos en die enigste ander skool wat die trofee nog ooit kon verower het, was St Stithians College.
Die Paul Roos-span het vir Hoër Jongenskool Paarl met 4 – 1 geklop in die finaal wat op die bane van Paul Roos Gimnasium beslis is.
Die span het die nr. 2 speler, Johan van Wijk reeds Donderdagoggend teen King Edward School verloor nadat hy die meniskus in sy knie geskeur het. Die ander spanlede het die teleurstelling oorkom. Hulle het die finaal aan Johan opgedra en uitstekende tennis gespeel om ‘n jong maar sterk Hoër Jongenskool Paarl-span te klop.
Dubbelpunt
Paul Roos het die dubbelspunt verdien deur twee van die dubbelswedstryde met 8 – 0 te wen. Daarna het die Maroen Masjien drie enkelspelwedstryde gewen en een verloor ten einde die wentotaal van vier punte te bereik. Dit was nie nodig om die twee orige enkelwedstryde te speel nie omdat die wentotaal van vier punte reeds bereik is.
Die PRG-span het bestaan uit Ernst Gouws (SA no.1 o/17), Johan van Wijk, Stephen Claassen, Willem de Waal, Leonardo Sola, Echard de Kock en Jake Downie.
Die PRG-span het as volg met die ander skole klaargespeel:
- Paul Roos wen Hoër Landbou Oakdale: 7 – 0
- PRG wen King Edward VII School: 5 – 2
- Paul Roos wen Afrikaanse Hoër Seunskool: 6 – 1
- PRG wen Hoërskool Waterkloof: 6 – 1
- Paul Roos wen Kearsney College: 6 – 1
- PRG wen Grey College: 4 – 0 (semi-finaal)
- Paul Roos wen Hoër Jongenskool Paarl: 4 – 1 (finaal)
Die ranglys van die skole was as volg:
- 1. Paul Roos Gimnasium
- 2. Hoër Jongenskool Paarl
- 3. Grey College
- 4. Hoërskool Waterkloof
- 5. Hoërskool Outeniqua
- 6. Afrikaanse Hoër Seunskool
- 7. St Stithians College
- 8. King Edward VII School
- 9. Hoër Landbou Oakdale
- 10. Kearsney College
- 11. Clifton School
- 12. Hoërskool Stellenbosch
Paul Roos Gimnasium het ook vir die eerste keer aan die jaarlikse Groot 5-tennistoernooi, wat deur Hoërskool Nelspruit aangebied is, deelgeneem en die toernooi gewen.
Uitslae:
- PRG wen Monument Hoërskool 19-1
- Paul Roos wen Nelspruit Hoërskool 19-2
- Wen Afrikaanse Hoër Seunskool 15-4
- PRG wen HTS Middelburg 16-0 en
- Wen Boland Landbou in die finaal 5-1.
Die seuns het ook die beker gewen vir sportmanskap.
Foto’s verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za