Op Dinsdag 16 Julie, het drie groepe dinamiese entrepreneurs van Hoërskool Ermelo aan die landswye SNAPSPEL, besigheidsimulasie, deelgeneem.
Hierdie kompetisie het ten doel om entrepreneurskap onder die jeug te bevorder. Die spel bestaan uit drie opeenvolgende rondtes van sakebesluite wat geneem moet word in spanne wat teen mekaar meeding met hul onderskeie besighede.
Leerders neem verskillende rolle van bestuur in die ondernemings aan en moet dus verantwoordelikheid aanvaar vir elke afdeling se besluitneming. Na afloop van elke ronde, ontvang die groepe weer nuwe inligting wat aspekte soos verkope, bemarking, populasie, prysverandering van insette en ekonomiese omstandighede insluit waarvolgens hul dan ‘n nuwe ronde van besluitneming moet uitvoer vir hul onderskeie ondernemings.
Die Erries het hierdie jaar uitstekend gevaar en spog met ‘n sewende plek op die Nasionale Ranglys vir die algehele skool-tellings. Die wenspan van die Erries is ook onder die top vyf skole in die land. EHS bedank Mentorvennoot graag vir hul betrokkenheid by die jeugontwikkelingsprogramme.
Geluk aan die Erries wat bygedra het tot hierdie sukses vir EHS.
Foto bo: Die groep Erries wat aan die SNAPSPEL deelgeneem en uitstekend presteer het