Op Donderdag, 2 Mei, het die Hoërskool Ermelo se netbalspanne in vriendskaplike wedstryde. te staan gekom teen Hoërskool Lydenburg. Die dogters het, soos gewoonlik, uitstekende netbal gespeel.
Die o/14A-span speel gelykop met 16 doele elk, die o/15A-span wen met ‘n pragtige telling van 21-16, die o/16A-span wen 13 – 5, terwyl die tweedespan ongelukkig met ses doele teenoor 29 verloor. Die Hoërskool Ermelo Calstar eerste netbalspan speel gelykop met 23 doele elk.
Op Saterdag, 4 Mei, speel die Erries se dogtershokkie en rugbyspanne teen Hoërskool Lydenburg.
Die Erries speel aanskoulike hokkie, met elke span wat as eenheid presteer. Ongelukkig het die o/14A’s nie ‘n wedstryd gehad vir die dag nie. Hierdie wedstryd is op Lydenburg se versoek uitgestel.
Die res van die uitslae is as volg:
Die o/15A-span speel pragtige hokkie en wen gemaklik 10 – 0. Danel Olivier, Kayla van der Meyden en Anzel Vosloo teken elkeen drie doele aan en Carla Ferreira behaal een doel.
Die o/16A-span wen 5 – 0. Hierdie span se telling was halftyd 1 – 0, maar met Errie-Guts pluk hierdie span die vrugte van hul harde werk. Margha Greyling teken twee doele aan met Lana Herholdt, Anke Krüger en Chané Bester wat elkeen een doel slaan.
Die tweedespan speel aanskoulike hokkie en stel weereens nie teleur nie. Hulle stap van die veld af met ‘n wentelling van 9-0. Jani Hattingh teken drie doele aan met Elizia van Heerden, Zeldine Pienaar, Gerzanda Fourie, Sunelle de Bruyn, Yané Broekman en Theané Arnoldi wat elk een doel slaan.
Die Hoërskool Ermelo Calstar eerstespan dogtershokkie wen 2 – 0 in ‘n harde wedstryd. Kyla Grobler en Clariz Olivier is die puntemakers van hierdie span.
Die Erries se rugby vaar uitstekend met pragtige rugby.
Die o/14A-span verloor naelskraap met 12 punte teenoor 15. Zian Kotze en Banele Thwala druk elk een drie en Adriaan Davel verdoel een drie.
Die o/15A-span wen met ‘n pragtige telling van 34-0. Tiaan Grobler, Kian Erasmus, Marko Ferreira en Richardt Huber druk elk een drie en CJ van Huyssteen druk twee drieë. Wian Swart verdoel twee van die drieë.
Die o/16A-span stap ook as oorwinnaars van die veld af met 20 punte teenoor 16. Die puntemakers vir dié span is Wonderboy Mnisi en Corné Janse van Rensburg wat elkeen twee drieë druk.
EHS se tweedespan wen die stryd met 37-14. Pedri Lourens, Dian Ferreira, Chad Coetzee en Lungelani Nhlapo druk elkeen een drie en Manasoe Sehaba druk twee drieë. Zuzu Mabuza verdoel twee drieë en skop een strafskop oor.
Die Hoërskool Ermelo Isuzu eerste rugbyspan wen Lydenburg met ‘n telling van 39-17. Mthandeni Thomo, Christiaan van der Merwe en Chad Coetzee druk elk een drie vir die span en Luke Bulford druk twee drieë. Walter Visser verdoel vier drieë en skop twee strafskoppe oor.
Baie geluk aan elke Errie wat uitstekende presteer het. EHS is besonder trots op elke speler!
Foto bo: Simoné Ferreira in aksie met Hanné Swart in die agtergrond