Die Wildehonde is ‘n hokkieklub wat deur me. Naomi Uys begin is by Hoërskool Ermelo. Naomi het ‘n groot liefde vir hokkie en het die inisiatief geneem om in 2007 die klub te stig.
In 2019 het die Wildehonde se bestuur besluit om dogters ook ‘n geleentheid te bied om te ontwikkel. Dit is vir EHS belangrik dat elke Wildehond ‘n liefde vir hokkie ontwikkel en dat elkeen sy of haar potensiaal bereik. Elke afrigter het ‘n hart vir die kinders en maak seker dat individuele aandag aan elkeen gegee word. Daar is mini-hokkie vir seuns en dogters vanaf die ouderdomme o/5 tot o/9 en die o/10-seuns is in die o/11-liga ingeskryf.
Op Woensdag, 17 Julie, het die Wildehonde 2-seuns (o/10’s ingeskryf as o/11’s) teen Laerskool Secunda te staan gekom. Laerskool Secunda het in die doodsnikke van die wedstyd daarin geslaag om `n doel aan te teken en hulle wen die wedstyd 1 – 0.
Op Vrydag 2 Augustus het Wildehonde 1-seuns ‘n wedstryd gespeel teen Highveld Ridge Primary. Hier het die Wildehonde ware deursettingsvermoeë en veggees gewys en het elkeen hul beste gegee. Highveld Ridge Primary wen die wedstryd 1 – 0 in ‘n naelbytwedstryd.
Die Wildehonde 2-seuns het teen Laerskool Kruinpark gespeel. Hierdie jong spannetjie het geveg tot die einde en gespeel soos nét die Wildehonde kan. Laerskool Kruinpark wen die wedstryd 2 – 0.
Die o/5 tot o/9 mini-hokkie se eerste wedstryde vind op 16 Augustus plaas te Laerskool CR Swart in Middelburg.
Foto bo: Die Wildehonde 1-span
