Op Saterdag, 3 Augustus, het Hoërskool Ermelo se o/15A-rugbyspan teen Hoërskool Ben Viljoen te staan gekom in die kwartfinaal van die Virseker Beker-uitspele.
Die seuns het hard gespeel en ware Errie-trots gewys. Die wedstryd eindig met ‘n gelykoptelling van 15 punte elk. Omdat EHS die eerste drie gedruk het, is dié span deur na die semifinaal van die Virseker Beker. Dié vind in Potchefstroom plaas teen Potchefstroom Gimnasium.
Tiaan Grobler en Msizi Hlope druk elk een drie, terwyl Wian Swart een drie verdoel en een strafskop oorskop.
Baie geluk aan die seuns met hierdie oorwinning en alle sterkte met die semifinaal wat vir julle voorlê.
Hoërskool Ermelo se Isuzu eerste rugbyspan het ongelukkig vasgeval tydens hul wedstryd teen Hoërskool Wesvalia. Die Erries verloor met 15 punte teenoor 40. Mitchelson Mkwanazi en Johan Nel druk elk een drie en Walter Visser skop een strafskop en een doelskop oor.
Baie geluk aan hierdie seuns met ‘n pragtige seisoen en baie dankie aan elkeen van die leerders, onderwysers en ouers wat bygedra het tot die sukses van die Erries. Spesiale dank aan Estian Horn en Douw Joubert wat die span van 2019 afgerig het.
