Die tweedespan tennisdogters (vlnr): Danél Olivier, Inge Greyling, Anja Wege en Yané Broekman.
Op Maandag en Dinsdag, 12 en 13 Augustus, het Hoërskool Ermelo se tennisspanne kragte gemeet met skole in die Gert Sibande Hoëveld-liga, naamlik Hoërskole Standerton, Secunda, Oosterland, Piet Retief, Hoogenhout, Volksrust, Curro Secunda en Ligbron Akademie vir Tegnologie.
Die Erries het vier seunsspanne en drie dogtersspanne vir die liga ingeskryf. Hoërskool Ermelo se tennisspanne het uitstekend presteer. Die eerste seunsspan tree as naaswenners uit die liga, die tweede seunsspan is ligawenners, die derde seunsspan eindig derde en die vierde seunsspan eindig ook as ligawenners. Die eerste dogtersspan eindig agtste in die liga, maar die tweede dogtersspan is ligawenners en die derde dogtersspan is naaswenners.
Na aanleiding van die uitslae van die Gert Sibande Hoëveld-liga, het die Erries se tennisspanne op Vrydag 16 Augustus aan die Mpumalanga-kampioenskap deelgeneem. Hier speel Nkgangala teen Gert Sibande en dié wenners speel in die finaal teen Ehlanzeni.
EHS se tweede seunsspan het derde in Mpumalanga geëindig nadat hulle teen HTS Middelburg verloor het.
Die tweede dogtersspan van EHS stap as naaswenners in Mpumalanga weg nadat hulle die knie moes buig voor Hoërskool Nelspruit in die finaal.
Die vierde seunsspan eindig ook as naaswenners in Mpumalanga. Hierdie span oorwin Hoërskool Kanonkop in die semi-finaal, maar val ongelukkig vas teen Hoërskool Nelspruit in die finaal.
Baie geluk aan elkeen van die spanne wat uitstekend presteer het! Die Erries is waarlik trots op julle!











