EHS Krieket seisoen. Hoërskool Ermelo se O.15-seunskrieket het op Dinsdag, 16 Augustus, teen Hoërskool Oosterland te staan gekom.
EHS boul eerste en Oosterland teken 150 lopies aan vir die verlies van ses paaltjies tydens hul kolfbeurt. Uitblinkers vir die Erries was Pierre Duvenage wat twee paaltjies geneem het vir 26 lopies. Henco Boshoff het 2 paaltjies vir 24 lopies geneem.
Die Erries het tweede gekolf en kon slegs 132 lopies aanteken. Pierre Duvenage het die beste gevaar met die kolf en het 46 lopies aangeteken. Hoërskool Oosterland wen die wedstryd met 18 lopies.
Dogters-krieketspan
Die dogters-krieketspan het teen Hoërskool Secunda gespeel op 17 Augustus. Secunda teken 199 lopies aan met die verlies van twee paaltjies. EHS kon slegs 98 lopies aanteken, almal uit. Secunda wen met 101 lopies.
Op Donderdag, 18 Augustus, het die EHS se tweede krieketspan kragte gemeet teen Ligbron. Ligbron het besluit om eerste te kolf en is met die tweede-laaste bal van hul kolfbeurt uitgeboul vir 123 lopies. EHS se bouler wat uitgestaan het, is Nicky van Rensburg wat vier paaltjies ingepalm het.
Daarna is dit EHS se beurt met die kolf en skuif by Ligbron se telling verby met slegs vier paaltjies plat. Erries het nog en meer as nege boulbeurte oorgehad. Die kolwer wat uitgeblink het vir EHS is Rynard Heroldt met 48 lopies.
EHS se tweede krieketspan wen teen Ligbron met ses paaltjies.
Eerstespan
Die eerstespan van EHS het die week se krieket met ’n oefen-wedstryd teen die Ermelo Warriors afgesluit. Op ‘n baie winderige dag het die Erries die geleentheid gehad om eerste te kolf. Dié span slaag daarin om ‘n uitstekende telling van 337/9 aan te teken. Daarna het hul die Warriors beperk tot slegs 300, almal uit. Erries se eerste span wen dus die wedstryd met 37 lopies.
Die uitblinker vir die Erries was Rian Barnard met die kolf, sowel as met die bal. Hy teken 102(75) aan en neem vier paaltjies vir 53 lopies in 7.3 boulbeurte.
EHS is dankbaar teenoor die Ermelo Warriors vir die geleentheid om teen goeie teenstanders te kon speel. Veral ook vir die goeie gees waarmee hul hierdie wedstryd benader het.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf