Op Woensdag, 23 Januarie, het leerders wat by die At Strydom-dramaskool ingeskryf het vir die eerste keer bymekaar gekom.
Belangstelling in dié nuwe buitekurrikulêre aktiwiteit wat deur die EHS aangebied word, is groot en ongeveer veertig leerders van EHS, JJ van der Merwe en Ermelo Christian School het Woensdagaand opgedaag vir hul eerste dramaklas.
Dit was ‘n leersame ervaring waar gefokus is op verskeie opwarmingsoefeninge en elementêre dramategnieke. Leerders is ook die geleentheid gegun om mekaar beter te leer ken.
Mnr. At Strydom beskik oor ‘n eie drama-ateljee in Johannesburg. Die Erries voel voorwaar baie geëerd en bevoorreg om hom by die EHS te verwelkom. Deur die loop van die jaar sal hy onder meer aandag skenk aan die volgende: toneelspel, verhooggrimering, spraakopleiding, kreatiewe denke, mimiek, storievertelling, selfbeeld- en persoonlikheidsontwikkeling.
Daar word geglo en vertrou dat dié nuwe deur wat by die EHS oopgemaak is in die toekoms nog vele nuwe geleenthede aan baie Erries sal bied op verskeie terreine. Leerders wat aan die einde van die jaar hul praktiese eksamen slaag, sal elk ‘n sertifikaat van Strydom se geakkrediteerde dramaskool ontvang.
Die EHS is baie opgewonde en sien met verwagting uit na ‘n jaar vol fantastiese drama-geleenthede asook die baat wat die Erries by die dramaklasse sal vind.
Foto bo: Deel van die opgewonde groep leerders wat reg is vir die opwarmingsoefeninge
