Dramaleerders – Hoërskool Die Wilgers en PALI Youth se dramaleerders het die jaar op ‘n hoë noot afgeskop. In Maart het Hoërskool Die Wilgers se leerders aan die Proscenium Dramakompetisie deelgeneem. Micha Heyman, Moya Erasmus, Wilné Mostert, Hilrinda Myburg en Jayden du Toit het fantastiese werk in hierdie strawwe rondte gedoen. Hulle het wonderlike terugvoer ontvang.
Jaco Koster en Zanje Bodenstein het die kompetisie se top 60 gehaal. Hulle neem tussen 9 en 11 Mei deel aan die landswye finaal by die Artscape Teater in Kaapstad. Hulle kry onder meer ook die geleentheid om deel te neem op die verhoog, agter die mikrofoon by RSG en voor die kamera by Suidooster Studio.
Jaco Koster het in Maart vanjaar ‘n rol losgeslaan in sy eerste vollengte film, “Som van Twee”, waarvan Simoné Pretorius die regie behartig. Hy debuteer in Augustus by vanjaar se kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai.
Eenmanvertonings
Terselfdertyd het Moya Erasmus, Zanje Bodenstein en Jaco Koster ook met eenmanvertonings deelgeneem aan die ATKV Digitoneel. Al drie dramaleerders het Goud verwerf vir hulle spel. Zanje Bodenstein het deurgedring tot die kompetisie se top 16 met haar toneel “Oor jy Grond Brand”. Sy neem haar stuk in Mei weer op en staan ‘n kans om deel te wees van die VIA televisieprogram “Gekies vir die Kollig”.
Die leerders neem later vanjaar in dieselfde formaat deel aan Pronk Digitaal. Daar word gehoop dat daar nog dramaleerders is wat hierdie uitdagende formaat van spel wil aanpak.
Al die PALI Youth leerders by Hoërskool Die Wilgers het deelgeneem aan die “Youth Arts Festival” en kry binnekort hulle uitslae.
Zanje Bodenstein word aangewys as ‘n kategoriewenner in die “eenvrouvertoning” kategorie en het op 1 Mei deelgeneem aan die kompetisie se finaal.
Uitslae
Die dramaleerders behaal die volgende sertifikate (Goud is 80-84%; Goud+ is 85-89% en Diploma is 90%+).
- Jaco Koster – Eenmanvertoning – Diploma; ‘Dramatised Poetry’ – Goud+; Afrikaanse Prosa – Goud+
- Micha Heyman – Afrikaanse Prosa – Diploma; ‘Dramatised Poetry’ – Goud
- Zanje Bodenstein – Eenvrouvertoning – Diploma; Afrikaanse Prosa – Diploma; Afrikaanse Poësie – Goud+
- Moya Erasmus – Eenvrouvertoning – Diploma, Afrikaanse Prosa – Goud+; Afrikaanse Poësie – Goud
- Jayden du Toit – Afrikaanse Prosa – Goud+; Afrikaanse Poësie – Goud
Die toneelseisoen by Hoërskool Die Wilgers het ook hierdie maand afgeskop. Hulle spog met drie toneelstukke hierdie jaar en ‘n hele klompie nuwe gesigte op die verhoog.
Lara Lourens behartig die regie van “Toe die See jou Sluk”, wat sy saam met oud-Wilgie, Zoë Hare (néé Ras), geskryf het. Die stuk handel oor ‘n jong man se soektog na antwoorde nadat ‘n tragedie hom en sy naasbestaandes onverwags tref.
Ilke König behartig die regie van “Fragment”, ‘n kreatiewe toneelstuk oor die effek wat sosiale media op jong vrouens se psige het. Zoë Hare het óók die teks geskryf.
Jaco Schoeman se selfgeskrewe toneelstuk “Verlore in die Suburbs” gaan oor twee boeties se avonture rondom hul oorlede pa se motor.
Hoërskool Die Wilgers neem in Julie en Augustus deel aan Pronk Podium ATKV-Tienertoneel en FAK-Allegretto Toneelfees.
Volgens Lara Lourens word daar uitgesien na ‘n opwindende seisoen van stories vertel!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s voorsien