Christian Hamman in Graad 12, Paul Roos Gimnasium, skryf vandag sy finale Latyn-vraestel as enigste matriek wat dié vak onder die beskerming van die Departement van Basiese Onderrig neem. Hy skryf dit weer op dieselfde dag as Skeinat.
Nie dat Christian terugstaan vir uitdagings nie.
Hy staan 1.97m in sy sokkies, het skerm (fencing, vir dié wat hulle eie nie taal ken nie) en karate as sportsoorte gekies (want dit ontwikkel jou breinkrag), en sy lekkerste tydverdryf is om sy tenoorsaksofoon te gryp en jazz te speel.
Hy neem musiek as vak, en was 5 jaar lid van die orkes; 5 jaar lid van die skoolkoor (wat laasjaar aangewys is as die beste seunskoor in die land); 3 jaar lid van die Paul Roos-sanggroep en 2 jaar lid van die skool se saksofoon-kwintet.
Hy het vanjaar Trinity College in Londen se altsaksofoon-eksamen afgelê, maar wag nog vir die uitslae.
Vanjaar was daar geen kunswedstryde nie, maar in 2019 het Christian cum laude vir solosang en saksofoon-solo gekry.
Hy is ook lid van Paul Roos se eerste ESport-span – vanjaar die beste in die land!
Oor Latyn sê Christian die volgende: “In ál my jare van Latyn neem – vier en ’n half jaar onder leiding (soms ook lyding) van me. Hesti van der Mescht – is daar nie ’n vak wat my só geïnspireer het om vrae te vra nie.
Hoekom sou ek ’n dooie taal wou aanleer terwyl ek vere gevoel het vir tale? My enigste kennis van Latyn voordat ek dit geneem het, was dat die Romeine dit gepraat het en dat dit moeilik is.
Die vak het vir my nie net groot uitdagings gebied nie, maar ook groot genot.
Geen ander vak het op my só ’n impak gehad, selfs buite die klaskamer nie.
Nie net is die Romaanse tale (Frans, Italiaans, Spaans, ens.) makliker om aan te leer nie; selfs Engels en Afrikaans se parallelle met Latyn kan nie ontken word nie. Deur hierdie “dooie” taal te ontleed ontdek jy regtig hoe ’n lewende taal eintlik werk.
Latyn leer jou om analities te dink, om aan die fyner besonderhede aandag te skenk en dit gee jou perspektief oor hoe ’n taal mense se denke weerspieël.
Alhoewel Latyn beslis my moeilikste vak is (ja, Skeinat, gaan treur daar in jou hoekie!), my tyd verorber, en my vriende irriteer, was dit beslis een van my beste lewenskeuses om hierdie taal aan te leer.
Ave atque vale! (*Hallo en totsiens!)”