In die Mei maand vanjaar vra ‘n ouer en mede-Oud Grey my of ek ‘n stukkie vir die matrieks van Grey sal skryf, wat ek toe gedoen het. Hierdie afgelope week het ‘n klomp emosies hulself by my kom tuismaak en sommer nesgeskop ook – ek beleef eenvoudig ‘n klomp goed weer. Hoewel ander emosies as drie en dertig jaar gelede, is daar tog ‘n klomp opgewonde raakpunte. En die nostalgie. Grey het hierdie week ook ‘n bord van al die matriekleerders van 2020 by die skool opgesit. Ek kan skielik name by my skrywe van Mei maand sit. Vir elke matriekkind van 2020 (en nou praat ek van die hele SA) – julle sal die wêreld wys.
MAAK JULLE PLEK IN DIE GESKIEDENIS VAS
Dit is einde 1982 – ek kry vir die heel eerste keer in my lewe kans om die gronde van Grey kollege te betree – my ma gaan wys my, want ons moes Bloemfontein toe om Grey-klere te koop. Ek onthou tot vandag die opgewondenheid van die wete dat ek ‘n Grey seun gaan wees. Ek onthou hoe ek vir R5 ‘n dag van vyfuur in die oggend op ‘n 1640 John Deere gesit en lande ploeg en solank Grey se skoollied geleer het, “Aan Bloemfontein se westekant…..”. Grey was nie onbekend aan my nie – ek het immers ‘n broer gehad wat 16 jaar voor my matriek in Grey geskryf het, hoewel ons pa op Queens College was – een van Grey se grootste teenstanders daardie jare. Ja, my pa het altyd gespog dat Grey hulle nooit in die veertigjare kon klop nie – en dit was ook so. Maar, ek het ‘n pa gehad wat dit altyd reggekry het om so entjie verder van die muur af te staan, altyd die groter prentjie te kon raaksien en vir ons as seuns die geleentheid gegee het om self te besluit. Maar ek wou Grey toe kom – al was ek in die laerskool in ‘n wonderlike skool, met wonderlike onderwysers en -maats – ek wou Grey toe. Ek sê baie vir voornemende ouers wat my vra waarom moet hy sy seun Grey toe stuur, dat die grootste oorweging vir ‘n seun moet wees om te wil kom – om by Grey te wees uit eie wil – nie omdat jou pa of ma wil hê jy moet daar wees nie. Ek het nog nooit nodig gehad om oor Grey se prestasies met so ‘n ouer te praat nie – dit het maar nog altyd self gepraat!
Hoekom skryf ek hierdie vanoggend? Ek skryf dit want my hart bloei letterlik vir 2020 se matriekklas. Vandag sou die Grey seuns in die Paarl gewees het – ‘n laaste interskole in die Kaap vir hulle. Volgende naweek Affies – weer ‘n laaste in Pretoria. En so tel jy die laastes af, elke keer as dit ‘n laaste is – ‘n laaste wat julle nooit gaan hê nie. Julle sal waarskynlik onthou word as die klas wat een van die moeilikste jare ooit by Grey gehad het. Ek kan ook, as ‘n ouer van ‘n graad 12 seun, julle vertel van motivering – van oorlewingsdrange, van ekstrinsieke motivering, van intrinsieke motivering. Maar dit wil julle nie hoor nie – dit het julle al in die heel eenvoudigste vorm by Grey geleer. Maar, kan ek so bietjie by intrinsieke motivering vashaak? Die Amerikaanse skrywer Dan Pink sê dit is “om konstant aan die beweeg te bly”. Aspekte soos meesterskap, onafhanklikheid en ‘n doelwit is deel van hierdie motivering. Julle staan in die Meimaand van julle matriekjaar – die kaarte wat gedeel is gaan nie nou verander nie – en daarom gaan net julle bepaal wat met daardie pakkie in jou hand gebeur. Hoeveel keer in jou lewe sedert jy as veertienjarige by Grey aangekom het, het jy woorde soos “meesterskap”, “onafhanklikheid” en “doelwitte” gehoor? Nie net in jou klas of daar tydens ‘n saalperiode in die ‘heiligdom’ van Grey nie, maar ook daar waar jy ‘n kringetjie maak voor jy teen Boishaai speel – daar waar jy die laaste keer oor jou notas gaan voor jy in die finaal van die ATKV praat – ja, en daar waar jy “Grey in Union” saam met ‘n 1000 Grey seuns in die Sand du Plessis sing – jy wil ewig deel hiervan wees. Jy wil nie hê dit moet verbygaan nie. Ek onthou die dag toe ek die voorreg gehad het om onderdeur die klok te stap – ek het my pa se ‘navy’ baadjie se skouer daardie dag sopnat gehuil en kon net die woorde, “dankie Pa dat Pa my Grey toe gestuur het”, uitkry. Dit was die Ingo Machts’e, die Marcell Cronje’s, die Wessel Du Plessis’s, die Dries van der Wall’e, die Dixie Dykmans, die Tommy Cronje’s, wat dit die afgelope vier jaar, dag vir dag, week na week vir julle gesê en geleer het – van eerlikheid, van integriteit, van harde werk, van “nice’ wees, van die beste wees in wat jy doen, van verwagtinge oortref, van trots vir daardie baadjie, van ‘jy verloor nie in ‘n Greytrui nie’, van maniere hê, van ‘n sin vir humor hê. Dit is wat Grey jou leer. En dit is nie nuut nie – dit het nie begin toe jy in 2016 daar gekom het nie. Praat maar jaar na jaar in Oktobermaand met die duisend Oud–Greys wat hulle klasreünies kom bywoon – Jock Meiring, Chief Faure, Patat, Chain, Dok Heyns, Hennie van Wyk, Pierre Hugo en al daardie manne, het dit al jare gelede ook vir die Grey seuns gesê en geleer.
Jy wou Grey toe kom, wat bly oor? Nie net ‘memories’ van interskole nie, maar die kameraadskap waar julle as 2020 se matriekklas in der waarheid ‘n laer om julle trek, wat sal hou tot die Vader waarin ons glo, die hek agter die laaste een van julle sal toemaak – laat aande in Leith-huis se gesels, karreskud, “roadhouse’ toe ‘slip’, dorm 9 se diefwering afskroef om twaalfuur in die nag te gaan ‘skinny’ en die skroefies van die diefwering weer netjies met ‘tippex’ te verf, die laaste keer toe jy jou Grey trui aantrek, jou laaste ete in Hamilton eetsaal. Ja, julle eie ‘memories’ en kameraderie moet julle nou staande hou. Julle Grey kaarte is gedeel – julle het Grey gekies, julle sal die wêreld wys!