Boland Landbouskool. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Jandré Genis, Onder-hoofseun van Hoërskool Hoër Landbouskool Boland, vir 2022.
Jandré, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoër Landbouskool Boland?
Ek sien myself as ‘n verteenwoordiger van Hoër Landbouskool Boland, by die skool en buite die skool, asook iemand wat die skoolhoof en onderwysers ondersteun in die handhawing van dissipline, deur ondermeer ‘n voorbeeld te stel vir ander leerders.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Boland Landbou jou vir die rol as leier voorberei?
Die leiers van die afgelope 4 jaar het ‘n baie goeie voorbeeld gestel. Die skool het my ook die geleentheid gebied om in verskillende areas leiding te neem, byvoorbeeld die leiding wat ek kon neem ten opsigte van die begin van Bybelstudie- en “praise and worship” aande en ook ‘n leiersposisie op die rugbyveld.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
As ‘n wedergebore kind van God, is Hy die eerste Persoon waarheen ek gaan wanneer ek leiding nodig het. Ek dink daar is geen beter mentor as Hy nie. Daarom is dit belangrik om ‘n goeie verhouding met Hom te hê.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek het nog altyd ‘n liefde vir syfers en finansies gehad, so ek het besluit om na skool B.Rek te gaan studeer.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Ons is soos een groot familie by Boland Landbou. Die feit dat daar geen dagskoliere is nie en almal in die koshuis is, dra by tot ‘n sterk broederskap onder mekaar.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek voel sport moet verpligtend wees. Daar is ‘n spreekwoord wat sê: ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. In sport leer jy baie keer wat teleurstelling is en hoe om dit te hanteer. In ‘n spansport word sterk bande gebou wat dikwels ontwikkel in lewenslange vriendskappe.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Sport, spesifiek rugby, is definitief die een ding wat ek die meeste geniet by Boland Landbou. Dis ‘n groot passie.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
My belangrikste doelwit is om die skool te los op ‘n beter plek as wat ek dit gekry het. Ook sal ek graag wil bydra daartoe dat die koshuis vir leerders soos ‘n 2de huis sal wees, eerder as deel van die skool.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Hierdie vraag loop hand-aan-hand met Vraag 11, wat vra wat my toekomsideale is. Die antwoord op beide vrae is dat ek eendag ‘n goeie lewe wil bied vir my familie en vir my kinders die geleentheid skep om ook vir hulle families ‘n goeie toekoms te kan bou.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Boland Landbou te word?
Ek sou leerders definitief aanraai om deel van Hoër Landbouskool Boland te word. Hier is jy nie net ‘n nommer nie en word met respek hanteer. Ons is een groot familie waar almal omgee vir mekaar en om in die natuur, op die plaas, te woon en skool te gaan, is ‘n groot voorreg.
Foto verskaf
Lees meer oor Hoër Landbouskool Boland:
Become a Sponsor








