Foto voor vlnr: Milan de Wit, Simonè de Witt, Brian Nakedi en Siphokazi Tshabalala
Agter Vlnr: Dr. Frelet de Villiers (begeleidster), Mia Delport en Simon Laubscher en mnr. Werner Stander (dirigent)
Ses ervare lede van die Bloemfontein Children’s Choir is aangewys as nuwe leiers vir 2021.
Simon Laubscher (Hoërskool Sentraal) en Mia Delport (Hoër Meisieskool Oranje) is aangewys as hoofleiers met Simonè de Witt, (Hoërskool Fichardtpark), Siphokazi Tshabalala (St Michael’s Secondary School), Milan de Wit (Hoërskool Sentraal ) en Brain Nakedi (Grey Kollege Sekondêr) as lede van die leierspan.
Die koor bestaan tans uit 67 lede en is reeds hard aan die oefen aan die 2021 jaarprogram. “Dit is ‘n opwindende tyd in die koor se 34 jaar geskiedenis en die bydrae van elke kind is van ontskatbare waarde. Die COVID-19 pandemie het ‘n groot impak op die bedrywighede gehad tydens 2020. In retrospek was dit vir ons ook ‘n tyd om te herstruktureer en te besin oor die aanslag en repertoire van die koor. Dit is belangrik om te fokus op ‘n uitstaande gehalte koorklank, samehorigheid tussen die kinders en terselfdertyd om die uitdagings wat die COVID-19 pandemie die hoof te bied. Innovasie en geleenthede gaan hand aan hand en die koor oefen tans in die kerkgebou van die NG Kerk, Bloemfontein Wes. Die kerk het ‘n uitstaande akoestiek en is by uitstek gerat om die kinders met die nodige sosiale afstande te laat oefen.” het Werner Stander, Direkteur van Musiek en dirigent van die koor gesê.
Tans word oudisies gereël vir kinders wat belangstel om deel van die koor te wees. Kontak 0835616517 om ‘n afspraak te maak.
Foto verskaf